Bible

Power Up

Your Services with User-Friendly Software

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Job 38

:
Afrikaans - AFR83
1 Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit:
2 “Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?
3 Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My.
4 Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het.
5 Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het 'n maatlyn oor hom gespan?
6 Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit
7 daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het?
8 Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het?
9 Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak.
10 Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit.
11 Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’
12 “Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom? Weet jy waar die daeraad vandaan kom,
13 die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie?
14 Met die daeraad word die vorm van die aarde sigbaar, dit neem vorm aan soos klere wat aangetrek word.
15 Dan word die goddeloses hulle bestaan ontneem en word hulle geweld beëindig.
16 Het jy, Job, al gekom by die plek waar die seewater uitborrel, en rondgestap op die bodem van die diepsee?
17 Het jy die ingang van die doderyk gesien, die plek van donkerte al bekyk?
18 Kan jy 'n beeld vorm van die groot wye wêreld? Praat as jy iets daarvan weet.
19 Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon? En die donkerte, waar is sy woonplek?
20 Kan jy die donkerte na sy gebied toe terugvat? Ken jy die paaie na sy woongebied toe?
21 Jy moet dit weet, jy wat maak of jy toe al gebore was, of jy 'n lang lewe agter die rug het.
22 Was jy al by die plek waar die sneeu gebêre word? Het jy al die plek gesien waar die hael gebêre word,
23 wat Ek opgegaar het vir 'n tyd van rampe, vir die dag as Ek wil oorlog voer?
24 Hoe loop die pad na die plek toe waar die lig sy oorsprong het en die oostewind oor die aarde begin waai?
25 Wie het vir die stortreën 'n pad oopgekap en vir die donderwolke hulle koers bepaal
26 sodat dit reën in 'n land waar nie mense is nie, in 'n woestyn waar niemand woon nie
27 en 'n droë, dor land deurnat word, sodat daar groen gras uitspruit?
28 Het die reën 'n vader? Wie het die doudruppels in die wêreld gebring?
29 Wie bring die ys te voorskyn? Wie bring die ryp in die wêreld?
30 Die water word so hard soos klip, selfs die oppervlakte van die diepsee verys.
31 Sou jy die Sewester met 'n band kon vasknoop of die band van Orion kon losmaak?
32 Kan jy die sterre op hulle tyd laat opkom, kan jy die Beer met sy kleintjies laat uitkom?
33 Weet jy hoe die hemelliggame werk? Stel jy hulle invloed op die aarde vas?
34 Kan jy jou stem tot by die wolke hoorbaar maak sodat stortreën jou oordek?
35 Kan jy weerligstrale uitstuur dat hulle vir jou kom sê: ‘Hier is ons’?
36 Wie gee verstand aan die ibis om teen die vloed te waarsku of wie gee insig aan die haan om die dag aan te kondig?
37 Wie het die kennis om genoeg wolke bymekaar te bring, om hierdie waterkruike van die hemel om te keer
38 wanneer die grond kliphard is en daar net groot kluite lê?