Bible

Connect

With Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Jeremiah 17

:
Afrikaans - AFR83
1 Die sonde van Juda is ingegraveer met 'n ysterpen, ingegrif met 'n diamantpunt op hulle harte en op die horings van hulle altare.
2 Selfs hulle nageslag onthou nog die altare van hulle voorvaders en die gewyde pale by die groen bome en op die hoë heuwels.
3 My berg in die veld, Ek laat ander jou rykdom, jou skatte vat omdat jy dwarsoor jou land hoogtes gebou en gesondig het.
4 Jy sal deur jou eie toedoen die grond moet laat wat Ek jou gegee het. Ek sal jou vir jou vyande laat werk in 'n land waarvan jy nie weet nie. In my toorn sal daar 'n vuur teen julle losbreek, en dit sal aanhou brand.
5 So die Here: Daar rus 'n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai;
6 hy is soos 'n kaal bossie in droë wêreld wat nooit water kry nie; 'n bossie wat in 'n klipwoestyn staan, in 'n brak wêreld waar niemand woon nie.
7 Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here 'n veilige vesting is;
8 so iemand is soos 'n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; 'n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.
9 Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?
10 Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, Ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen.
11 'n Fisant wat broei op eiers wat hy nie gelê het nie, dit is die mens wat op oneerlike wyse ryk word. Hy sal sy rykdom moet agterlaat in die fleur van sy lewe, sy uiteinde is dié van 'n dwaas.
12 'n Magtige troon, van die begin af verhewe, dit is die plek waar ons heiligdom staan!
13 Here, Hoop van Israel, wie van U af weggaan, kom bedroë daarvan af; wie van U af wegdraai, is vir die dood opgeskryf, want hulle verlaat die Here, die bron van die lewe.
14 Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees! Bevry Ú my, dan sal ek vry wees! Dit is vir U wat ek wil loof.
15 Die mense vra vir my: “Waar is die woord van die Here? Laat dit tog kom!”
16 Maar omdat ek nie wou ophou om 'n herder te wees wat in u diens staan nie, het ek nie die onheilsdag nadergewens nie. U weet wat ek gesê het, dit is aan U bekend.
17 Moet tog nie vir my 'n verskrikking word nie, want U is my toevlug op die dag van rampe.
18 Laat dié wat my vervolg, bedroë daarvan afkom, nie ek nie! Laat hulle vreesbevange word, nie ek nie! Bring die dag van rampe oor hulle, straf hulle met 'n dubbele straf!
19 Die Here het vir my gesê: Gaan staan in die Volkspoort waardeur die konings van Juda in- en uitgaan, en ook in al die ander poorte van Jerusalem
20 en sê: Hoor die woord van die Here, konings van Juda en al die mense van Juda en al die inwoners van Jerusalem wat deur hierdie poorte gaan!
21 So die Here: Pas op! Julle lewens is op die spel! Moet niks op die sabbatdag dra en deur die poorte van Jerusalem bring nie,
22 moet niks uit julle huise bring op die sabbatdag nie, moet geen werk doen nie. Hou die sabbatdag heilig soos Ek julle voorvaders beveel het.
23 Hulle was ongehoorsaam en het nie geluister nie, hulle was hardkoppig, hulle wou nie luister en hulle laat leer nie.
24 Maar as júlle aan My gehoorsaam is, die Here, en niks deur die poorte van hierdie stad dra op die sabbatdag nie, die dag heilig hou en geen werk doen op dié dag nie,
25 sal daar altyd konings wees wat op die troon van Dawid sit en deur die poorte van die stad gaan met hulle amptenare. Die konings en hulle amptenare sal saam met die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem op strydwaens en perde ry, en dié stad sal altyd bewoon word.
26 Die mense sal uit die stede van Juda kom, uit die omstreke van Jerusalem, uit die gebied van Benjamin, uit die Laeveld, uit die Bergland, uit die Suidland, en hulle sal offers na die huis van die Here toe bring, brandoffers, graanoffers, wierook- en dankoffers.
27 Maar as julle aan My ongehoorsaam is en nie die sabbatdag heilig hou nie en op dié dag goed deur die poorte van Jerusalem dra, sal Ek die poorte aan die brand steek, en die vuur sal die mooi huise in Jerusalem verteer sonder dat iemand dit kan blus.