Bible

Connect

With Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 64

:
Afrikaans - AFR83
1 As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom sodat die berge voor U skud!
2 Kom af soos 'n vuur wat fynhoutjies laat brand, soos 'n vuur wat water laat kook. Laat u Naam aan u vyande bekend word, laat die nasies voor U bewe.
3 Toe U wonders gedoen het, wonders wat ons nie verwag het nie, toe U destyds afgekom het, het die berge voor U geskud.
4 Van ouds af het niemand so iets gehoor nie, het niemand so iets verneem nie, het geen oog 'n god gesien wat vir dié wat op hom vertrou, doen wat U doen nie.
5 U kom dié te hulp wat met blydskap doen wat reg is, dié wat onthou hoe U wil hulle moet lewe. U was kwaad vir ons, want ons het gesondig. Ons het so lank daarmee aangehou, hoe kan ons dan nog gered word?
6 Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere; ons is almal soos verdroogde blare, ons word deur ons sondes weggewaai soos deur 'n wind.
7 Daar is niemand wat tot U om hulp roep nie, niemand wat sy krag in U soek nie. U het ons aan onsself oorgelaat, U laat ons wegkwyn deur ons sondes.
8 U is ons vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm, ons is almal die werk van u hande.
9 Moet tog nie aanhou kwaad wees vir ons nie, Here, moenie ons sonde vir altyd teen ons hou nie, onthou tog ons is almal u volk.
10 U heilige stad het 'n woestyn geword: Sion het 'n woestyn geword, Jerusalem is onbewoonbaar.
11 Ons heilige en pragtige tempel waar ons voorouers U geloof het, is deur vuur verwoes, alles wat vir ons dierbaar was, in puin.
12 Raak hierdie dinge U dan nie, Here? Gaan U nie ingryp nie? Gaan U aanhou om ons te laat ly?