Bible

Upgrade

Your Church Presentations in Minutes

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 3

:
Afrikaans - AFR83
1 Die Here die almagtige God gaan uit Jerusalem en Juda elke stut en steunpilaar verwyder: almal wat sorg vir brood en water,
2 elke weerbare burger, elke soldaat, regter, profeet, waarsêer, leier,
3 offisier, hoë amptenaar, raadgewer, kundige vakman en ervare besweerder.
4 Die Here sal aan onvolwassenes gesag gee oor die volk, wispelturige mense sal oor hulle heers.
5 Die volk sal mekaar te lyf gaan, man teen man, vriend teen vriend; seuns sal grysaards te lyf gaan, en dié wat nie gesag het nie, die vooraanstaandes.
6 As iemand sy broer in die ouerhuis pak en sê: “Jy het darem nog behoorlike klere, wees ons leier en regeer oor hierdie vervalle spul,”
7 sal hy op daardie dag uitroep: “Ek wil nie die leiding neem nie! Daar is nie kos en ook nie behoorlike klere in my huis nie; moet my nie aanstel as leier van die volk nie.”
8 Jerusalem het gewaggel, Juda het in duie gestort omdat hulle hulle met woord en daad teen die Here en teen sy gesag verset het.
9 Hulle partydigheid in die regspraak getuig teen hulle. Hulle sondig openlik soos Sodom, hulle steek niks weg nie. Ellende wag vir hulle, hulle het die ramp verdien!
10 vir die regverdiges met húlle sal dit goed gaan; hulle sal die vrug van hulle dade geniet.
11 Maar ellende wag vir die skuldiges; wat hulle gedoen het, sal aan húlle gedoen word.
12 My volk het kinders as regeerders, vrouens as heersers. My volk, jou leiers verlei jou en bring jou van koers af.
13 Die Here is gereed vir die regsaak, Hy staan klaar om oor die volk te oordeel.
14 Die Here begin die saak teen die leiers en die hoë amptenare van sy volk: Julle het die wingerde gestroop; wat van die hulpeloses geroof is, in julle huise.
15 Wat besiel julle dat julle my volk vertrap en die hulpeloses verdruk? vra die Here my God, die Almagtige.
16 Verder het die Here gesê: Omdat die vrouens van Sion hoogmoedig is en kop in die lug rondloop terwyl hulle ogies maak, wegstap met trippelgang en hulle enkelringe laat rinkel,
17 sal Ek, die Here, hulle hare afskeer. Ja, die Here sal hulle koppe kaalskeer.
18 Op dié dag sal die Here die versiersels wegneem: enkelringe, sonnetjies en maantjies,
19 oorbelletjies en armbande, sluiers
20 en hooftooisels, voetkettinkies, versierde gordels, reukwater en gelukbringertjies,
21 ringe en neusringe,
22 feesklere, mantels en tjalies, handsakkies
23 en spieëltjies, spogrokkies, kopdoekies en skouermanteltjies.
24 In plaas van reukwater sal daar stank wees, in plaas van 'n gordel 'n tou, in plaas van gekrulde hare 'n kaalkop, in plaas van 'n fyn kledingstuk 'n harige roukleed, in plaas van skoonheid die brandmerk van 'n slaaf.
25 Jerusalem, jou manne sal deur die swaard val en jou jongmanne in die oorlog.
26 Jou poorte sal treur en rou, en jy sal sonder mense sit.