Bible

Engage

Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 24

:
Afrikaans - AFR83
1 Die Here gaan die aarde verwoes, vernietig, sy voorkoms verander en sy inwoners verstrooi.
2 Dieselfde lot gaan almal tref: priester en volk, slaaf en besitter, slavin en eienares, koper en verkoper, uitlener en lener, skuldeiser en skuldenaar.
3 Die aarde sal verwoes word, heeltemal verwoes word, dit sal leeg geplunder word. Die Here het dit gesê.
4 Die aarde sal droog word, uitdroog, die wêreld sal wegkwyn van droogte; hemel en aarde sal vergaan,
5 want die aarde is verontreinig deur sy inwoners: hulle was ongehoorsaam aan die wet van die Here, hulle het sy voorskrifte geminag, sy vaste verbond verbreek;
6 daarom sal 'n vloek die aarde verteer en sal sy inwoners boet vir hulle sonde; daarom sal die inwoners van die aarde verbrand word, en daar sal min mense oorbly.
7 Die wingerde sal verdroog en die wyn sal skaars word; wie vrolik was, sal sug.
8 Die tamboeryne sal nie meer gehoor word nie, daar sal nie meer 'n oeslied wees nie, die lier sal nie meer gehoor word nie.
9 Niemand sal meer sing as hy wyn drink nie, bier sal galbitter word vir dié wat dit drink.
10 Die stad sal afgebreek word, dit sal onbewoonbaar word. Die huise is toegeval, niemand kan daar inkom nie.
11 In die strate sal mense kerm om wyn, die gejuig sal verdwyn, op die aarde sal daar geen vreugde meer wees nie.
12 In die stad sal alles verwoes wees, die stadspoorte sal daar rondlê, stukkend geslaan.
13 Dit sal so kaal wees op die aarde en onder die volke soos wanneer die olywe afgeslaan en die laaste druiwe van die wingerde afgeoes is.
14 Die mense wat oorbly, sal juig, hulle sal die mag van die Here besing, van die weste af sal hulle Hom prys.
15 Dié in die ooste moet die Here eer; hulle wat op die eilande van die see woon, moet die Naam van die Here die God van Israel prys.
16 Van die uithoeke van die aarde af hoor ons liedere waarin die groot mag van die Regverdige besing word. Maar ék sê: Ek kwyn weg, ek kwyn weg, dit is klaar met my. Die ontroues handel troueloos, troueloos handel hulle.
17 Angs, vanggate en strikke wag vir die inwoners van die land.
18 Wie van die gevaar af probeer wegkom, beland in die vanggate, wie uit die vanggate probeer uitklim, word in die strik gevang. Strome water sal uit die hemel val, die fondamente van die aarde sal skud
19 en die aarde sal in stukke breek, heen en weer waggel en wankel.
20 Die aarde sal slinger soos 'n dronk mens, heen en weer wieg soos 'n biesieskerm. Die aarde se oortredinge rus swaar op hom, hy sal val en nie weer opstaan nie.
21 Dié dag sal die Here die magte in die hemel daarbo straf, ook die konings van die aarde daaronder.
22 Hulle sal bymekaar gebondel word soos gevangenes wat in 'n gat toegesluit is. Hulle sal in 'n tronk opgesluit word, na geruime tyd sal hulle hulle straf kry.
23 Die volmaan sal dof word wanneer die Here die Almagtige op Sionsberg en in Jerusalem as Koning sal heers en sy mag laat blyk voor die leiers van sy volk.