Exodus 15
1 Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing: “Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger.
2 Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek.
3 Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’!
4 Die strydwaens van die farao en ook sy leër het Hy in die see geslinger. Die keur van Egipte se offisiere is in die Rietsee gedompel.
5 Watermassas het hulle oordek, soos 'n klip het hulle in die dieptes afgesak.
6 U regterhand, Here, gedug in sy krag, u regterhand, Here, verpletter die vyand.
7 U is hoog verhewe, U vernietig wie teen U opstaan, U laat u toorn woed, dit verteer hulle soos kaf.
8 U wind het gewaai: die water dam op, strome staan regop soos 'n muur, watermassas stol in die hart van die see.
9 Die vyand sê: ‘Ek sal hulle agtervolg en inhaal, ek sal die buit verdeel, ek sal my sin kry, ek sal my swaard trek, my hand sal hulle verslaan.’
10 “U laat u wind waai: die see oordek hulle, hulle sink soos lood in die magtige waters.
11 Wie van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade!
12 U het u regterhand uitgesteek; die aarde het die vyand ingesluk.
13 Deur u trou het U die volk gelei wat deur U verlos is, hulle deur u krag gebring na u gewyde land toe.
14 Die volke het dit gehoor en hulle het gesidder, angs het die bewoners van Filistea beetgepak,
15 die stamhoofde van Edom was verskrik, die magtiges van Moab vreesbevange, al die bewoners van Kanaän was lam geskrik.
16 Vrees en angs het hulle oorval, u magtige dade het hulle laat versteen toe u volk deurtrek, Here, toe die volk wat U u eie gemaak het, deurtrek.
17 U het hulle ingebring, U het hulle geplant op die berg wat aan U behoort. Here, U het 'n plek vir u troon voorberei, u hande, Here, het 'n gewyde plek gereed gemaak.
18 Die Here regeer tot in ewigheid!”
19 Waarlik, toe die perde van die farao met strydwaens en bemanning die see ingegaan het, het die Here die water van die see oor hulle laat terugvloei, maar die Israeliete het op droë grond daardeur gegaan.
20 Mirjam die profetes, suster van Aäron, het 'n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans.
21 Mirjam het vir hulle voorgesing: “Sing tot eer van die Here omdat Hy hoog verhewe is. Perd en ruiter het Hy in die see geslinger.”
22 Moses het die Israeliete laat wegtrek van die Rietsee af en hulle het na die Surwoestyn toe gegaan. Hulle het drie dae lank die woestyn in getrek en geen water gekry nie.
23 Toe hulle by Mara aankom, kon hulle nie die water drink nie, omdat dit bitter was. Daarom het hulle die plek Mara genoem.
24 Die volk het by Moses gekla: “Wat moet ons drink?”
25 Moses het die Here aangeroep, en die Here het hom 'n stuk hout gewys. Hy het dit toe in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het die Here die volk op die proef gestel en daar het Hy vir hulle 'n vaste reël neergelê.
26 Hy het gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf. Dan sal Ek geeneen van die siektes waarmee Ek Egipte getref het, oor julle bring nie, want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.”
27 Daarna het hulle by Elim aangekom met sy twaalf fonteine en sewentig palmbome en daar by die water kamp opgeslaan.