Ecclesiastes 12
1 Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: “Ek het daar niks aan nie.”
2 Dit is die tyd wanneer die son donker sal word en ook die daglig, die maan en die sterre, die tyd wanneer dit weer bewolk word ná die reën.
3 Dit is die tyd wanneer die wagters van die huis sal bewe, die sterk manne waggel en die malers ophou maal omdat hulle min geword het, die tyd wanneer dit donker word vir dié wat deur die vensters kyk,
4 wanneer die deure na die straat toe toegemaak word, die geluid van die meul dof word, die tyd wanneer 'n mens opstaan as die voëls begin sing al hoor hy geen lied meer nie.
5 Dit is die tyd wanneer hy bang is vir 'n hoogte en vir alles op die pad skrik, die tyd wanneer die amandelboom in bloei staan, die sprinkaan homself moeisaam voortsleep en die kapperkruid nutteloos word, die tyd wanneer die mens na sy ewige woning gaan en dié wat treur, op die straat rondgaan,
6 die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val,
7 die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.
8 Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.
9 Die Prediker was nie net 'n man met wysheid nie, hy het ook die volk onderrig. Hy het nagedink, nagevors en baie spreuke gemaak.
10 Hy het daarna gestrewe om hom raak uit te druk en die waarheid getrou op te teken.
11 Die woorde van mense met wysheid is soos skerp stokke, versamelde spreuke is soos spykers wat ingeslaan is. Hulle is deur een Herder gegee.
12 Die belangrikste van alles is: My seun, wees versigtig! Daar kom nie 'n einde aan die skryf van baie boeke nie, te veel studie ooreis die liggaam.
13 Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word.
14 God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.