Amos 1AFR83

1Die woorde van Amos, 'n skaapboer uit Tekoa. Hy het oor Israel 'n gesig gesien tydens die regering van koning Ussia van Juda en koning Jerobeam van Israel, seun van Joas. Dit het twee jaar voor die aardbewing gebeur.

2Amos het gesê: Wanneer die Here uit Sion brul, wanneer Hy sy stem uit Jerusalem laat hoor, verdor die weivelde van die herders en verdroog die top van Karmelberg.

3So sê die Here: Selfs as Damaskus net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg: hy het vir Gilead met skerp ysters gemartel.

4Daarom sal Ek in die paleis van Gasael 'n vuur laat losbreek en dit sal die mooi huise van Ben-Hadad verteer.

5Ek sal die grendels van Damaskus stukkend breek, die inwoners van Bikat-Awen en die regeerder van Bet-Eden uitroei. Die Arameërs sal in ballingskap na Kir toe weggevoer word, sê die Here.

6So sê die Here: Selfs as Gasa net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg: hy het mense voor die voet as ballinge weggevoer en aan Edom uitgelewer.

7Daarom sal Ek binne die mure van Gasa 'n vuur laat losbreek en dit sal sy mooi huise verteer.

8Ek sal die inwoners van Asdod en die regeerder van Askelon uitroei. Ek sal my hand teen Ekron oplig, en die Filistyne wat nog oor is, sal omkom, sê die Here my God.

9So sê die Here: Selfs as Tirus net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg: hy het mense voor die voet as ballinge aan Edom uitgelewer en nie aan die ooreenkoms met sy bondgenote gedink nie.

10Daarom sal Ek binne die mure van Tirus 'n vuur laat losbreek en dit sal sy mooi huise verteer.

11So sê die Here: Selfs as Edom net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg: hy het die Israeliete, sy broers, agtervolg met die swaard en die broederliefde verloën, hy het hulle in sy toorn verskeur, sy woede het bly kook.

12Daarom sal Ek in Teman 'n vuur laat losbreek en dit sal die mooi huise van Bosra verteer.

13So sê die Here: Selfs as die Ammoniete net drie keer sonde gedoen het, sou Ek hulle straf nie herroep het nie. Maar nou het hulle 'n vierde sonde daarby gevoeg: hulle het swanger vrouens in Gilead oopgesny en hulle eie gebied uitgebrei.

14Daarom sal Ek binne die mure van Rabba 'n vuur aansteek en dit sal sy mooi huise verteer. Dié dag sal daar geskreeu word en sal daar oorlog wees, 'n storm, 'n orkaan.

15Hulle koning sal in ballingskap weggevoer word, hy en sy amptenare saam met hom, sê die Here.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Amos 1.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.