1Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. 'n Psalm.
2U het, o HERE, 'n welbehae gehad in u land; die lot van Jakob het U verander.
3U het die ongeregtigheid van u volk weggeneem, al hulle sonde bedek. Sela.
4U het al u grimmigheid teruggetrek, U het U van die gloed van u toorn afgewend.
5Herstel ons, o God van ons heil, en maak tot niet u grimmigheid teen ons!
6Sal U vir ewig teen ons toornig wees, u toorn laat duur van geslag tot geslag?
7Sal U ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie?
8Laat ons u goedertierenheid sien, o HERE, en gee ons u heil!
9Ek wil hoor wat God die HERE spreek. Ja, Hy spreek vrede vir sy volk en vir sy gunsgenote; maar laat hulle nie tot dwaasheid terugkeer nie!
10Gewis, sy heil is naby die wat Hom vrees, sodat heerlikheid in ons land kan woon.
11Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.
12Trou spruit uit die aarde en geregtigheid kyk uit die hemel neer.
13Ook gee die HERE die goeie, en ons land lewer sy opbrings. [ (Psalms 85:14) Geregtigheid gaan voor Hom uit, en dit let op die weg van sy voetstappe. ]