Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Titus 1

:
Afrikaans - AFR20
1 Paulus, 'n dienskneg van God en •apostel van Jesus •Christus, ter bevordering van die geloof van die uitverkorenes van God, en hulle kennis van die waarheid, wat ooreenstem met godvresendheid,
2 in die hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, reeds voor alle tye beloof het,
3 en wat sy woord op sy eie tyd bekend gemaak het deur die verkondiging, wat in opdrag van God, ons Verlosser, aan my toevertrou is
4 aan Titus, my egte seun op grond van ons gemeenskaplike geloof: Genade en vrede van God, ons Vader, en Christus Jesus ons Verlosser.
5 Hiervoor het ek jou in Kreta laat agterbly: dat jy onafgehandelde sake kan afhandel, en in elke dorp ouderlinge kan aanstel, soos ek aan jou opgedra het.
6 Dit moet iemand wees wat onberispelik is, 'n man met een vrou, en met gelowige kinders, wat nie van losbandige gedrag beskuldig kan word, of opstandig is nie.
7 Want 'n opsiener moet, as bestuurder oor die huishouding van God, onberispelik wees: nie eiesinnig of humeurig nie, iemand wat nie te veel drink of skoorsoekerig is of oneerlike wins najaag nie,
8 maar gasvry, lief vir die goeie, verstandig, regverdig, toegewyd en selfbeheersd.
9 Hy moet hom hou aan die betroubare woord, in ooreenstemming met die lering, sodat hy deur die gesonde leer kan bemoedig, en ook hulle wat dit teengaan, verkeerd kan bewys.
10 Want daar is baie opstandiges, praatjiesmakers, en mense wat ander mislei, veral onder hulle wat besny is,
11 van wie die mond gesnoer moet word, mense wat hele huishoudings omvergooi deur ontoelaatbare dinge te leer, en dit vir skandelike gewin.
12 Een van hulle mense, hulle eie profeet, het gesê: Kretensers altyd leuenaars, slegte ondiere, lui vrate!
13 Hierdie getuienis is waar. Daarom, spreek hulle skerp aan, sodat hulle gesond kan word in die geloof,
14 en hulle nie meer besig hou met Joodse mites en menslike voorskrifte wat van die waarheid afwyk nie.
15 Alles is rein vir dié wat rein is, maar vir die besoedeldes en ongelowiges is niks rein nie: sowel hulle denke as hulle gewete is besoedel.
16 Hulle bely dat hulle God ken, maar weerspreek dit met hulle dade; hulle is afstootlik en onversetlik, onbekwaam om enigiets goeds te doen.