Song of Solomon 3
1 Die hele nag op my bed hunker ek na die geliefde van my hart. Ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie.
2 Laat ek nou opstaan en die stad deurkruis, op die strate en pleine na die liefde van my hart soek. Ek het hom gesoek, maar hom nie gevind nie.
3 Die wagte, op hulle rondtes deur die stad, het my gevind. “Die geliefde van my hart, het julle hom gesien?”
4 Pas nadat ek by hulle verby is, vind ek die geliefde van my hart! Ek gryp hom vas en laat hom nie weer gaan nie, tot ek hom na my moeder se huis gebring het, na die kamer van haar wat met my swanger was.
5 Meisies van Jerusalem, ek besweer julle by die ribbok- en takbokooie van die veld: Moenie die liefde aanwakker nie, moet dit nie opwek nie, voordat dit nie self wil ontwaak nie.
6 Wat kom daar aan uit die woestyn soos suile rook, omhul van mirre en wierook, van al die beste speserye van die handelaar?
7 Kyk, dit is Salomo se drastoel, omring deur sestig dapper manne, van die dapperstes in Israel,
8 almal bedrewe met die swaard, ervare krygers, elkeen met sy swaard op sy heup, bedag op nagtelike gevare.
9 Koning Salomo het vir hom 'n drastoel gemaak van hout uit die Libanon.
10 Die style het hy van silwer gemaak, die dak van goud, die sitplek van purperstof, die binnekant is uitgevoer met leer. Meisies van Jerusalem,
11 kom uit! Meisies van Sion, kom kyk na koning Salomo, na die kroon waarmee sy moeder hom gekroon het, op sy troudag, op die dag toe sy hart oorstelp van vreugde was.