Bible

Focus

On Your Ministry and Not Your Media

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Romans 2

:
Afrikaans - AFR20
1 Daarom is daar vir jou, o mens, wat oordeel, wie jy ook al is, geen verontskuldiging nie. Met die oordeel wat jy oor die ander persoon uitspreek, veroordeel jy immers jouself, omdat jy wat oordeel, dieselfde doen.
2 Ons weet dat God se oordeel na waarheid oor mense kom wat sulke dinge doen.
3 Dink jy, o mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen terwyl jy dieselfde dinge doen, dat jy God se oordeel sal vryspring?
4 Of verag jy die rykdom van sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie?
5 Deur jou hardkoppigheid en onbekeerlike hart is jy besig om toorn teen jouself op te stapel op die dag van toorn, wanneer die regverdige oordeel van God geopenbaar sal word.
6 “Hy sal elkeen beloon volgens sy dade:”
7 die ewige lewe aan diegene wat deur volgehoue goeie werke streef na heerlikheid, eer en onsterflikheid,
8 maar toorn en gramskap aan diegene wat uit eiesinnigheid ongehoorsaam is aan die waarheid en gehoorsaam aan die ongeregtigheid.
9 Verdrukking en benoudheid wag vir elke mens wat aanhou kwaad doen, eerstens vir die Jood, maar ook vir die Griek.
10 Maar heerlikheid, eer en vrede wag vir elkeen wat die goeie doen, eerstens vir die Jood, maar ook vir die Griek.
11 Want God beoordeel niemand volgens sy uiterlike nie.
12 Almal wat sonder die wet gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan, maar almal wat binne die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word.
13 Dit is tog nie die blote hoorders van die wet wat voor God regverdig is nie, maar dit is die daders van die wet wat geregverdig sal word.
14 Want wanneer die heidene, wat nie oor die wet beskik nie, van nature tog die vereistes van die wet nakom, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle nie die wet nie.
15 Hulle wys duidelik dat die uitvoering van die wet in hulle harte geskryf staan, en hulle gewetens bevestig dit; en hulle teenstrydige gedagtes sal hulle soms aankla, en soms verontskuldig,
16 op die dag wanneer God die verborge dinge van die mens, volgens my evangelie, deur •Christus Jesus sal oordeel.
17 Jy noem jouself tog 'n Jood, jy maak staat op die wet en jy beroem jou op God.
18 Jy ken sy wil en onderskei die dinge wat saak maak, omdat jy uit die wet onderrig word.
19 Jy is daarvan oortuig dat jy 'n gids vir die blindes is, 'n lig vir diegene in die duisternis,
20 'n leermeester vir die onkundiges, 'n onderwyser vir klein kindertjies, omdat jy in die wet die beliggaming van kennis en waarheid het.
21 Jy dan, wat iemand anders onderrig, onderrig jy nie jouself nie? Jy wat verkondig dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy self?
22 Jy wat 'n mens mag nie egbreuk pleeg nie, pleeg jy egbreuk? Jy wat die afgode verafsku, pleeg jy tempelroof?
23 Jy wat jou beroem op die wet, jy doen God oneer aan deur die wet te oortree.
24 Want “die Naam van God word deur julle toedoen onder die heidene belaster”, soos daar geskryf staan.
25 Die besnydenis is inderdaad van nut as jy die wet nakom, maar as jy 'n oortreder van die wet is, het jou besnedenheid onbesnedenheid geword.
26 En as onbesnede mense die voorskrifte van die wet uitvoer, sal hulle onbesnedenheid dan nie tot besnedenheid gereken word nie?
27 Boonop sal die mense wat van nature onbesnede is en tog die wet nakom, oordeel oor jou, wat ten spyte van die letter van die wet en die besnydenis 'n wetsoortreder is.
28 Want om 'n Jood te wees, is nie iets uiterliks nie, en besnydenis is nie iets wat uiterlik aan die liggaam geskied nie;
29 inteendeel, iemand is innerlik 'n Jood en besnydenis is iets van die hart, geestelik, nie letterlik nie. iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.