Bible

Elevate

Your Sunday Morning Worship Service

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Revelation 22

:
Afrikaans - AFR20
1 Toe het die engel aan my 'n rivier met die water van die lewe gewys. Dit was helder soos kristal, en het gestroom uit die troon van God en die Lam.
2 In die middel, met die hoofstraat aan die een kant en die rivier aan die ander kant, staan die boom van die lewe, wat twaalf keer vrugte dra elke maand dra dit vrug. En die blare van die boom bring genesing vir die nasies.
3 Daar sal geen vloek meer wees nie. Die troon van God en die Lam sal in die stad wees, en sy diensknegte sal Hom dien.
4 Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam is op hulle voorkoppe.
5 Daar sal ook nie meer nag wees nie. Die behoefte aan die lig van 'n lamp en die lig van die son sal nie meer bestaan nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle vir ewig en ewig as konings sal heers.
6 Toe het die engel aan my gesê: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here, die God van die geeste van die profete, het sy engel gestuur om aan sy diensknegte te wys wat binnekort moet gebeur.
7 “Kyk, Ek kom gou! Gelukkig is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.
8 Ek, Johannes, is die een wat hierdie dinge gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval aan die voete van die engel wat hierdie dinge aan my gewys het.
9 Maar hy het vir my gesê: “Moet dit nie doen nie! Ek is net 'n dienskneg saam met jou en jou broers, die profete, en saam met diegene wat vashou aan die woorde van hierdie boekrol. Aanbid God!”
10 Hy het ook vir my gesê: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boekrol verseël nie, want die bestemde tyd is naby.
11 Wie onreg pleeg, laat hy nog meer onreg pleeg; wie onrein is, laat hy nog meer onrein word; maar wie regverdig is, laat hy nog meer geregtigheid beoefen; en wie heilig is, laat hy nog meer heilig word.”
12 “Kyk, Ek kom gou! En die beloning is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon.
13 Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.
14 Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan.
15 Die honde bly buite, ook die towenaars en die hoereerders, die moordenaars en die afgodedienaars, en ook elkeen wat die leuen liefhet en beoefen.
16 “Ek, Jesus, het my engel gestuur om teenoor julle oor hierdie dinge in die gemeentes te getuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die helder môrester.
17 En die Gees en die bruid sê: “Kom!” En laat elkeen wat luister, sê: “Kom!” En laat elkeen wat dors het, kom. En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet!
18 Ek getuig teenoor elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol hoor: “As iemand iets hieraan toevoeg, sal God die plae waarvan in hierdie boekrol geskryf is, aan hom toevoeg.
19 En as iemand van die woorde van die boekrol van hierdie profesie wegneem, sal God sy aandeel aan die boom van die lewe, en aan die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is, wegneem.”
20 Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou! •Amen! Kom, Here Jesus!
21 Die genade van die Here Jesus bly by julle almal.