Bible

Focus

On Your Ministry and Not Your Media

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Revelation 18

:
Afrikaans - AFR20
1 Hierna het ek 'n ander engel uit die hemel sien afkom. Hy het oor groot mag beskik, en die aarde deur sy heerlikheid verlig.
2 Hy het met 'n kragtige stem uitgeroep: “Geval, geval het Babilon die Grote! Sy het 'n woonplek vir demone geword, 'n skuilplek vir elke onrein gees, 'n skuilplek vir elke onrein voël, en 'n skuilplek vir elke onrein en veragtelike dier,
3 omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die wellus van haar hoerery. Die konings van die aarde het onsedelik met haar verkeer, en die handelaars van die aarde het ryk geword uit die aantrekkingskrag van haar weelde.”
4 Toe het ek 'n ander stem uit die hemel hoor sê: “Gaan weg van haar, my volk, sodat julle nie ook deelneem aan haar sonde nie, en julle haar plae nie oor julle bring nie.
5 Haar sonde het opgehoop tot aan die hemel, en God het haar onregverdige dade onthou.
6 Vergeld haar soos sy julle dit laat ontgeld het, vergeld haar dubbeld, ooreenkomstig haar dade. In die beker waarin sy vir julle gemeng het, moet julle vir haar twee keer soveel meng.
7 In dieselfde mate as wat sy haarself verheerlik en in weelde geleef het, moet julle haar ook pyn en smart aandoen. Want in haar hart sy, ‘Ek sit steeds as 'n koningin; ek is nie 'n weduwee nie, en smart sal ek beslis nie ervaar nie.’
8 Daarom sal die plae wat vir haar bedoel is, haar op een dag tref, dood en smart en hongersnood, en sy sal met vuur verbrand word; want magtig is die Here God, wat die oordeel oor haar gevel het.
9 Die konings van die aarde wat onsedelik met haar verkeer het en uitspattig geleef het, sal oor haar huil en rou wanneer hulle die rook van haar verbranding sien.
10 Hulle sal uit vrees vir haar foltering op 'n afstand staan en sê: “Wee, wee jou, groot stad, Babilon, magtige stad, binne 'n oomblik het jou oordeel aangebreek!”
11 Ook die handelaars van die aarde huil en rou oor haar, omdat niemand hulle handelsware meer koop nie:
12 skeepsvragte goud en silwer, edelstene en pêrels, fyn linne, purper materiaal, sy en helderrooi materiaal, elke geurige houtsoort, elke voorwerp van ivoor, elke voorwerp van kosbare hout, van koper, van yster en van marmer,
13 kaneel en speserye, reukwerk, reukolie en wierook, wyn en olyfolie, meel en koring, beeste en skape, perde, rytuie, slawe, en ook menselewens.
14 “En die vrug van jou hartsbegeerte is jou nou ontneem. Al die weelde en luukshede is nou vir jou verlore; dit is beslis nie meer te vinde nie.”
15 Die handelaars van hierdie dinge wat hulleself deur haar verryk het, sal op 'n afstand staan, uit vrees vir haar foltering. Hulle huil en rou onophoudelik,
16 terwyl hulle sê: “Wee, wee jou, groot stad, uitgedos in fyn linneklere, purperrooi en helderrooi, en opgesmuk met goud en edelstene en pêrels!
17 Want binne 'n oomblik is soveel rykdom uitgewis! Elke stuurman, en elkeen wat iewers heen vaar, die matrose en hulle wat 'n lewe maak uit die see, het op 'n afstand gestaan.
18 Hulle het geskree toe hulle die rook van haar verbranding sien, en gesê: “Watter stad is net soos dié groot stad?”
19 En hulle het stof op hulle koppe gestrooi en geskree, terwyl hulle huil en rou en sê: “Wee, wee jou, groot stad, deur wie se skatte almal wat skepe op see besit, ryk geword het. Want binne 'n oomblik is sy uitgewis.
20 Juig oor haar, hemel, •heiliges, •apostels en profete! God het julle oordeel oor haar voltrek.”
21 Toe het een sterk engel 'n klip, soos 'n groot maalklip van 'n donkie, opgetel en dit in die see gegooi en gesê: “Net so, met geweld, sal die groot stad Babilon neergegooi word, en sy sal nooit weer gevind word nie.
22 En die klank van siterspelers en sangers, van fluitspelers en trompetblasers, sal nooit weer in jou gehoor word nie. En geen ambagsman van enige ambag sal ooit weer in jou gevind word nie. Ook die geluid van 'n meule sal nooit weer in jou gehoor word,
23 en die lig van 'n lamp sal nooit weer in jou skyn nie. Die stem van 'n bruidegom en bruid sal nooit weer in jou gehoor word nie. Jou sakelui was die magtiges van die aarde, want deur jou betowering is al die nasies mislei.
24 Maar in haar is ook die bloed van profete en heiliges gevind, en ook van almal wat op die aarde doodgemaak is.”