Bible

Power Up

Your Services with User-Friendly Software

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Revelation 12

:
Afrikaans - AFR20
1 Toe het daar 'n indrukwekkende teken in die hemel verskyn: 'n vrou beklee met die son, met die maan onder haar voete, en op haar kop 'n kroon van twaalf sterre.
2 Sy was swanger, en omdat sy in kraam was, het sy van geboortepyn geskree.
3 En 'n ander teken het in die hemel verskyn: Kyk, daar was 'n groot vuurrooi draak, met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone.
4 Sy stert het 'n derde van die hemel se sterre saamgesleep en dit op die aarde neergegooi. Die draak het toe voor die vrou wat op die punt was om geboorte te skenk, gaan staan om, sodra sy geboorte skenk, haar kind te verslind.
5 Sy het geboorte geskenk aan 'n manlike kind, bestem om al die nasies met 'n ysterstaf te regeer. En haar kind is weggevoer na God en sy troon.
6 Die vrou het egter die woestyn in gevlug, na 'n plek wat daar vir haar deur God gereedgemaak is, sodat hulle haar daar twaalfhonderd-en-sestig dae lank kon versorg.
7 En daar het oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en sy engele het teen die draak oorlog gevoer. Die draak en sy engele het ook oorlog gevoer,
8 maar was nie sterk genoeg nie daarom was daar nie meer vir hulle plek in die hemel te vind nie.
9 Die groot draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld, is toe uitgegooi. Hy is op die aarde neergegooi, en saam met hom ook sy engele.
10 Toe het ek 'n harde stem in die hemel hoor uitroep: “Nou het die verlossing en die krag en die koningsheerskappy van ons God deurgebreek, en ook die volmag van sy •Christus, omdat die aanklaer van ons broers uitgegooi is, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.
11 Húlle het hom oorwin, op grond van die bloed van die Lam, en op grond van hulle getuienis. Selfs in die aangesig van die dood het hulle nie hulle eie lewens liefgehad nie.
12 Daarom, juig hemel en diegene wat in die hemel woon! Wee julle, aarde en see, want die Duiwel het met groot woede na julle neergedaal, omdat hy weet dat hy min tyd oor het.”
13 En toe die draak sien dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou agtervolg wat geboorte geskenk het aan die manlike kind.
14 Aan die vrou is egter die twee vlerke van die groot arend gegee, sodat sy na haar plek in die woestyn kon vlieg, waar sy vir 'n tyd, tye en 'n halwe tyd lank weg van die slang af versorg sou word.
15 Die slang het toe uit sy bek 'n stroom water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgespoeg, om haar deur die stroom te laat meesleur.
16 Die aarde het die vrou egter gehelp, sy mond geopen, en die rivier wat die draak by sy bek uitgespoeg het, ingesluk.
17 Die draak was woedend vir die vrou, en het weggegaan om oorlog te voer teen die res van haar nageslag wat die gebooie van God nakom en vashou aan die getuienis wat Jesus gelewer het.
18 Toe het hy op die strand by die see gaan staan.