Revelation 1
1 Hier volg 'n openbaring deur Jesus •Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat binnekort moet gebeur. Hy het dit aan sy dienskneg Johannes duidelik gemaak deur sy engel wat Hy gestuur het.
2 Dit is hy wat getuig van die woord van God, en die getuienis deur Jesus Christus – alles wat hy gesien het.
3 Gelukkig is die een wat dit voorlees, en ook hulle wat die woorde van dié profesie hoor, en vashou aan dit wat daarin geskryf staan, want die bestemde tyd is naby.
4 Johannes, aan die sewe •gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is;
5 en van Jesus •Christus, die betroubare getuie, die •Eersgeborene uit die dood en die heerser oor die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefhet, en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het,
6 wat ons 'n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader – aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig. •Amen.
7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen!
8 “Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige.
9 Ek, Johannes, julle broer en 'n deelgenoot in die verdrukking, en in die koninkryk, en in die volharding in ons verhouding met Jesus, was op die eiland wat Patmos genoem word, op grond van die woord van God, naamlik die getuienis deur Jesus •Christus.
10 Op die dag van die Here het die Gees van my besit geneem, en het ek agter my 'n harde stem, soos dié van 'n basuin, gehoor
11 wat sê: “Skryf wat jy sien in 'n boekrol op, en stuur dit aan die sewe •gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”
12 Ek het omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Toe ek omdraai, het ek sewe goue kandelare gesien,
13 en in die middel van die kandelare, iemand net soos die •Seun van die Mens. Hy het 'n kleed wat tot op die voete hang, gedra, met 'n goue band wat om sy bors vasgebind was.
14 Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vlammende vuur.
15 Sy voete was net soos gloeiende koper in 'n rooiwarm oond, en sy stem soos die gedruis van baie waterstrome.
16 In sy regterhand het hy sewe sterre gehou, uit sy mond het daar 'n skerp swaard met twee snykante gekom, en sy gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn.
17 Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos 'n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste
18 en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades.
19 Skryf dan op wat jy gesien het, wat daar is, en wat hierna gaan gebeur.
20 Dit is die misterie van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe boodskappers van die sewe gemeentes, en die sewe kandelare is die sewe gemeentes.”