Obadiah 1
1 Die openbaring aan Obadja. Dit is wat die Here, my Heer oor Edom gesê het. Ja, ons het 'n boodskap gehoor wat van die Here af kom. 'n Boodskapper is onder die nasies ingestuur: “Staan op! Laat ons gereedmaak vir oorlog teen Edom!”
2 “ Kyk, gering maak Ek jou onder die nasies; jy sal heeltemal verag word.
3 Die verwaandheid van jou hart bedrieg jou, jy wat tuis is in die rotsskeure van jou hoë woonplek, wat in jou hart sê, Wie sal my afbring aarde toe?
4 Al sou jy jou nes so hoog maak soos dié van 'n arend, selfs al sou jy tussen die sterre nes maak, van daar af sal Ek jou afbring,” is die uitspraak van die Here.
5 “ Was dit maar diewe wat na jou toe gekom het, was dit maar diewe in die nag! Hulle steel darem net tot hulle genoeg het. Hoe word jy vernietig! Was dit maar druiweplukkers wat na jou toe gekom het! Hulle laat darem natrossies agter.
6 Hoe word Esau deursoek, sy wegsteekplekke kaal gestroop!
7 Almal met wie jy 'n verbond gesluit het, stuur jou terug tot by die landsgrens. Hulle het jou bedrieg, jou uitoorlê, daardie mense met wie jy 'n vredesooreenkoms het. Hulle wat saam met jou geëet het, laat 'n vreemde jou plek inneem. Daar is nie meer raad in Edom oor nie!”
8 “Sal Ek nie op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, “wyse manne uit Edom laat verdwyn en raadgewers uit die bergland van Esau nie?”
9 Teman, jou krygshelde sal verskrik wees, sodat mense uitgeroei sal word op die bergland van Esau. “Vanweë moord,
10 vanweë geweld teen jou broer Jakob, sal skaamte jou oorval en jy sal uitgeroei word vir altyd.
11 Die dag toe jy eenkant gaan staan het, die dag toe vreemdes die besittings van Jakob weggevoer het, toe buitelanders sy poorte binnegedring en geloot het oor Jerusalem, was ook jy soos een van hulle!
12 Jy moes nie gestaan en toekyk het op die dag van jou broer, op die dag toe 'n ramp hom getref het nie. Jy moes nie bly gewees het oor die Judeërs op die dag van hulle ondergang nie. Jy moes nie 'n groot mond gehad het op die dag van angs nie.
13 Jy moes nie in die poort van my volk gekom het op die dag van hulle teenspoed nie. Jy moes nie ook sy onheil staan en dophou het op die dag van sy teenspoed nie. Jy moes nie jou hande uitgesteek het na sy besittings op die dag van sy teenspoed nie.
14 Jy moes nie op die ontsnaproetes gaan staan het om sy vlugtelinge uit te roei nie. Jy moes nie sy mense wat wou ontvlug uitgelewer het op die dag van angs nie.
15 Voorwaar, die dag van die Here oor al die nasies is naby! Soos wat jy gedoen het, sal aan jou gedoen word. Jou daad sal terugkeer op jou kop. ”
16 “ Ja, soos wat julle die beker moes drink op my heilige berg, sal al die nasies voortdurend moet drink. Hulle sal drink en onsamehangend praat en hulle sal wees asof hulle nooit bestaan het nie.
17 Maar op die berg Sion sal daar ontvlugting wees, en Sion sal heilig wees. “Die huis van Jakob sal dié wat hulle verdryf het, uitdryf.
18 Die huis van Jakob sal vuur wees en die huis van Josef 'n vlam, maar die huis van Esau sal strooi wees. Die vuur sal die strooi brand en dit verteer. Daar sal van die huis van Esau nie een ontvlug nie.” Want die Here het dit gesê.
19 Hulle sal die Negev saam met die bergland van Esau in besit neem, die Sjefela saam met Filistea. Hulle sal die gebied van Efraim en die gebied van Samaria in besit neem en Benjamin saam met Gilead.
20 Die ballinge van hierdie leër, die Israeliete, sal Kanaänitiese gebied in besit neem tot by Sarfat, en die ballinge van Jerusalem wat in Sefarad is, sal die stede van die Negev in besit neem.
21 Verlossers sal dan na die berg Sion opgaan om oor die bergland van Esau te regeer; en die koningskap sal aan die Here behoort.