Bible

Power Up

Your Services with User-Friendly Software

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Mark 7

:
Afrikaans - AFR20
1 Die •Fariseërs en sommige van die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het toe by Hom byeengekom.
2 Hulle merk toe dat sommige van sy dissipels brood eet met •onrein, dit is met ongewaste, hande.
3 Die Fariseërs en al die Jode eet immers nie tensy hulle hulle hande deeglik gewas het nie, omdat hulle vasklou aan die tradisie van die voorouers.
4 En wanneer hulle van die markplein af kom, eet hulle nie voordat hulle hulleself gewas het nie. Daar is nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle vasklou: die was van bekers, kruike, koperhouers en eetbanke.
5 Toe vra die Fariseërs en skrifkenners Hom: “Waarom tree u dissipels nie op in ooreenstemming met die tradisie van die voorouers nie, maar eet hulle brood met onrein hande?”
6 En Hy antwoord hulle: “Jesaja het tereg oor julle skynheiliges geprofeteer, soos daar geskryf staan, ‘Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af.
7 Tevergeefs vereer hulle My, want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense.’
8 “Julle versaak die gebod van God en klou vas aan die tradisie van mense.”
9 Hy het ook vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuif en sodoende julle tradisie te handhaaf.
10 Want Moses het gesê, ‘Eer jou vader en jou moeder,’ en ‘Wie sy vader of moeder beledig, laat hy beslis doodgemaak word.’
11 Maar julle sê, ‘As 'n mens vir jou vader of moeder sê, “Watter voordeel u ook al van my sou kon ontvang, dit is korban” dit is 'n offergawe
12 dan hoef 'n mens hoegenaamd niks meer vir sy vader of moeder te doen nie.’
13 So ontneem julle die woord van God sy gesag deur die tradisie wat julle oorgelewer het, en julle doen ook nog baie soortgelyke dinge.”
14 Hy het die skare weer nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal na My en verstaan!
15 Daar is niks wat van buite af in 'n mens ingaan wat jou onrein kan maak nie, maar die dinge wat uit 'n mens uitkom, dit is wat jou onrein maak.”
16 ...
17 En toe Hy 'n huis binnegegaan het, weg van die skare af, het sy dissipels Hom oor die gelykenis uitgevra.
18 Hy toe vir hulle: “Is ook julle so sonder begrip? Verstaan julle nie dat niks wat van buite af in 'n mens ingaan, jou onrein kan maak nie?
19 Die kos gaan immers nie na jou hart nie, maar na jou maag, en word dan in die privaat uitgewerp.” So het Hy alle kos rein verklaar.
20 Maar Hy het gesê: “Wat uit 'n mens uitgaan, dit maak 'n mens onrein.
21 Want van binne af, uit die hart van mense, kom slegte gedagtes, onsedelikheid, diefstal, moord,
22 owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, geslepenheid, onwelvoeglikheid, jaloesie, lastering, hoogmoed, dwaasheid.
23 Al hierdie slegte dinge kom van binne af en maak 'n mens onrein.”
24 Hy het daarvandaan weggegaan en na die gebied van Tirus vertrek. Hy het 'n huis binnegegaan en wou nie dat iemand dit moes weet nie; maar Hy kon nie onopgemerk bly nie.
25 En gou het daar 'n vrou wie se dogtertjie 'n onrein gees gehad het, van Hom gehoor, en voor sy voete kom neerval.
26 Dit was 'n Griekse vrou, van Siro-Fenisiese afkoms. Sy het Hom gevra om die demoon uit haar dogter uit te dryf.
27 Hy het vir haar gesê: “Laat die kinders eers versadig word, want dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.”
28 Sy antwoord Hom toe: “Here, die hondjies onder die tafel eet darem van die kindertjies se krummels.”
29 Daarop Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, gaan huis toe! Die demoon het reeds uit jou dogter uitgegaan.”
30 En toe sy by haar huis kom, kry sy die kindjie op die bed lê, en die demoon was reeds uit haar uit.
31 Jesus het weer uit die gebied van Tirus vertrek en deur Sidon na die See van Galilea gegaan, deur die gebied van Dekapolis.
32 Hulle bring toe iemand wat doof was en met 'n spraakgebrek na Hom, en smeek Hom om die man die hande op te lê.
33 Nadat Hy die man eenkant toe geneem het, weg van die skare af, het Hy sy vingers in die man se ore gesteek, gespoeg en sy tong aangeraak.
34 Nadat Hy na die hemel opgekyk het, sug Hy en vir hom: “Effata!” dit is, ‘Gaan oop!’
35 En dadelik is sy ore geopen, die band van sy tong losgemaak, en hy kon normaal praat.
36 Jesus het hulle beveel om dit aan niemand te vertel nie. Maar hoe meer Hy hulle dit beveel het, hoe meer het hulle dit uitbasuin.
37 Hulle was uitermate verwonderd en het gesê: “Hy het alles goed gedoen selfs dowes laat Hy hoor en stommes laat Hy praat.”