Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Mark 4

:
Afrikaans - AFR20
1 Hy het weer begin om hulle langs die see te onderrig. Daar het toe so 'n groot skare om Hom saamgedrom dat Hy op die see in 'n boot gaan sit het, en die hele skare was op die strand langs die see.
2 Hy het hulle dikwels deur gelykenisse geleer en deur sy lering vir hulle gesê:
3 “Luister, julle! Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai.
4 Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval, en voëls het gekom en dit opgepik.
5 'n Ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar daar nie baie grond was nie, en dit het dadelik opgekom, omdat die grond nie diep was nie.
6 Maar toe die son opkom, is dit verskroei. Omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog.
7 'n Ander deel het tussen die dorings geval. Die dorings het opgekom en dit verstik, en dit het nie vrug voortgebring nie.
8 En nog ander saad het op goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en opbrengs gelewer, een dertig-, 'n ander sestig- en nog 'n ander honderdvoudig.”
9 Toe het Hy gesê: “Laat dié wat ore het om te hoor, luister!”
10 Toe Hy alleen was, het die omstanders saam met die twaalf Hom uitgevra oor die gelykenisse.
11 En Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die geheimenis van die •koninkryk van God bekend gemaak, maar vir hulle daar buite word alles in gelykenisse gegee,
12 ‘sodat hulle sal sien, en tog nie sien nie, en hoor, en tog nie verstaan nie, en hulle nie terugdraai en vergewe word nie.’
13 En Hy vir hulle: “Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? Hoe sal julle dan al die gelykenisse verstaan?
14 Die saaier saai die woord.
15 Die saad langs die pad is die mense by wie die woord gesaai word sodra hulle dit hoor, kom Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle gesaai is.
16 En die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is die mense wat die woord dadelik met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor;
17 maar hulle het nie wortel geskiet nie en hou net 'n rukkie. As verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hulle dadelik.
18 En ander weer is die saad wat tussen die dorings gesaai is. Hulle is diegene wat die woord hoor,
19 maar die bekommernisse van hierdie wêreld, die verleiding van rykdom en die begeertes na allerlei dinge dring in en verstik die woord, en dit bly sonder vrug.
20 Maar die saad wat op die goeie grond gesaai is, is daardie mense wat die woord hoor, dit aanneem en vrug dra, een dertig-, 'n ander sestig- en nog 'n ander honderdvoudig.”
21 En Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp word tog nie gebring om onder 'n maatemmer of 'n bed gesit te word nie? Is dit nie bedoel om op 'n lampstaander geplaas te word nie?
22 Want niks is verborge wat nie blootgelê sal word nie, en daar is niks weggesteek wat nie aan die lig sal kom nie.
23 Laat dié wat ore het om te hoor, luister!”
24 Hy het ook vir hulle gesê: “Gee ag op wat julle hoor! Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word, en daar sal vir julle nog bygevoeg word.
25 Want wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal ook dit wat hy het, weggeneem word.”
26 En Hy het gesê: “Die •koninkryk van God is soos 'n man wat saad op die land uitstrooi,
27 en nag nag gaan slaap, en dag dag opstaan, en die saad ontkiem en groei hoe, weet hy self nie.
28 Die land bring die graan vanself voort: eers 'n halm, dan 'n aar en dan die koring vol in die aar.
29 Wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.
30 En Hy het gesê: “Hoe sou mens die •koninkryk van God uitbeeld, of deur watter gelykenis sou mens dit voorstel?
31 Dit is soos die mosterdsaadjie wat, wanneer dit in die grond gesaai word, kleiner is as al die soorte saad op die land.
32 Maar wanneer dit gesaai is, kom dit op en word dit die grootste van al die tuinplante, en maak sulke groot takke dat die voëls van die hemel in sy skaduwee kan nesmaak.
33 Deur baie sulke gelykenisse het Hy die boodskap op so 'n manier aan hulle vertel dat hulle dit kon verstaan.
34 Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer hulle op hulle eie was, het Hy alles vir sy eie dissipels uitgelê.
35 Op daardie dag, toe dit aand geword het, Hy vir hulle: “Kom ons gaan na die oorkant!”
36 Hulle het toe die skare agtergelaat en Hom saamgeneem, aangesien Hy reeds in die boot was. Daar was ook ander bote by Hom.
37 'n Hewige stormwind het opgekom, en die golwe het in die boot geslaan, sodat die boot reeds vol water begin word het.
38 Hy self was egter agter in die boot op die kussing aan die slaap. Hulle maak Hom toe wakker en vir Hom: “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?”
39 Toe staan Hy op, bestraf die wind en vir die see: “Wees stil, bedaar!” Die wind het gaan lê, en daar het 'n groot kalmte gekom.
40 Hy vra hulle toe: “Waarom is julle bang? Het julle nog steeds nie geloof nie?”
41 Hulle is met diep ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”