Mark 15
1 En dadelik, die oggend vroeg, het die leierpriesters met die familiehoofde, skrifkenners en die hele Sanhedrin beraadslaag. Hulle het Jesus toe geboei, weggeneem en aan •Pilatus uitgelewer.
2 Pilatus vra Hom toe: “Is u die koning van die Jode?” Hy antwoord hom: “U sê dit.”
3 Die leierpriesters het Hom van baie dinge beskuldig.
4 Pilatus vra Hom toe weer: “Antwoord u niks nie? Kyk hoeveel beskuldigings bring hulle teen u in!”
5 Maar Jesus het steeds niks geantwoord nie, sodat Pilatus verwonderd was.
6 Tydens elke fees het hy vir hulle, op hulle versoek, een gevangene vrygelaat.
7 Daar was 'n man met die naam Barabbas, wat gevange geneem is saam met die rebelle wat moord gepleeg het tydens 'n opstand.
8 Die skare het na •Pilatus gegaan en gereedgemaak om te vra dat hy soos gewoonlik sal optree.
9 Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?”
10 Hy het immers geweet dat die leierpriesters Hom uit afguns oorgelewer het.
11 Die leierpriesters het die skare egter opgestook dat hy eerder Barabbas vir hulle moet vrylaat.
12 Pilatus het hierop gereageer en weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek doen met hom wat julle die koning van die Jode noem?”
13 Hulle het opnuut geskreeu: “Kruisig hom!”
14 Pilatus vra toe vir hulle: “Watter kwaad het hy dan gedoen?” Maar hulle het nog harder geskreeu: “Kruisig hom!”
15 Pilatus wou die skare tevrede stel, en het Barabbas vir hulle vrygelaat. Maar Jesus het hy laat gesel en oorgelewer om gekruisig te word.
16 Die soldate het Hom weggelei, die paleis, naamlik die pretorium, binne, en die hele kohort soldate byeengeroep.
17 Toe trek hulle vir Hom 'n purperrooi mantel aan, en sit vir Hom 'n doringkroon op wat hulle gevleg het,
18 en begin Hom spottend groet: “Gegroet, koning van die Jode!”
19 Hulle het Hom herhaaldelik met 'n riet oor die kop geslaan, op Hom gespoeg, en knielend aan Hom eer bewys.
20 En nadat hulle Hom bespot het, het hulle die purperrooi mantel afgehaal en sy boklere vir Hom aangetrek. Hulle lei Hom toe weg om Hom te kruisig.
21 Hulle het 'n verbyganger, 'n sekere Simon van Sirene, wat van die platteland gekom het, die vader van Aleksander en Rufus, gedwing om sy kruis te dra.
22 Hulle bring Jesus toe na die plek Golgota, wat, as dit vertaal word, ‘Kopbeenplek’ beteken.
23 Hulle wou Hom wyn, gemeng met mirre, gee, maar Hy het dit nie geneem nie.
24 Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy boklere deur daaroor te loot oor wie wat sou neem.
25 Dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het.
26 Die inskripsie van die aanklag teen Hom is bo Hom aangebring: “Die koning van die Jode.”
27 Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand.
28
29 Die verbygangers het Hom gelaster terwyl hulle hulle koppe skud en sê: “Ha! Jy wat die •tempel afbreek en in drie dae opbou,
30 red jouself! Kom af van die kruis!”
31 Op dieselfde manier het ook die leierpriesters saam met die skrifkenners spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered, homself kan hy nie red nie!
32 Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo!” Ook hulle wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.
33 Toe die sesde uur aanbreek, het dit oor die hele aarde donker geword tot die negende uur toe.
34 Op die negende uur het Jesus met 'n harde stem uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtáni?” wat, as dit vertaal word, beteken, ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’
35 Toe sommige van die omstanders dit hoor, sê hulle: “Kyk, hy roep Elia.”
36 Iemand het gehardloop, 'n spons met suur wyn deurweek, dit op 'n riet gesit en vir Hom gehou om te drink, met die woorde: “Wag, laat ons sien of Elia kom om hom af te haal.”
37 Jesus het met 'n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas.
38 Die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur, van bo tot onder.
39 Toe die centurio, wat reg oorkant Hom gestaan het, Hom sy asem so sien uitblaas, sê hy: “Hierdie man was werklik •Seun van God!”
40 Daar was ook vroue wat op 'n afstand gekyk het, onder wie Maria Magdalena, Maria, die moeder van die jong Jakobus en Joses, en Salome.
41 Dit is die vroue wat Hom, toe Hy in Galilea was, gevolg en bedien het. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem gegaan het, was ook daar.
42 Toe dit reeds laat geword het, en aangesien dit die Voorbereidingsdag was, die dag voor die Sabbat,
43 het Josef van Arimatea, 'n vooraanstaande lid van die Raad, wat ook uitgesien het na die •koninkryk van God, na •Pilatus gegaan. Hy het moed bymekaargeskraap en die liggaam van Jesus gevra.
44 Pilatus was verbaas dat Hy al dood was, en het die centurio laat roep en hom gevra of Hy reeds 'n geruime tyd dood was.
45 Toe hy dit by die centurio verneem het, het hy die lyk vir Josef gegee.
46 Josef het toe 'n linnedoek gekoop, en Hom, nadat hy Hom van die kruis afgehaal het, in die linnedoek toegedraai en neergelê in 'n graf wat in 'n rots uitgekap was, en 'n klip teen die ingang van die graf gerol.
47 Maria Magdalena en Maria, die moeder van Joses, het gesien waar Hy neergelê is.