Mark 12
1 Hy het toe met hulle in gelykenisse gepraat: “'n Man het 'n wingerd aangeplant. Hy het dit omhein, 'n parskuip gegrawe en 'n wagtoring gebou. Toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan.
2 Op die regte tyd het hy 'n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hy van hulle die opbrengs van die wingerd kon ontvang.
3 Maar hulle het hom gegryp, afgeransel en met leë hande teruggestuur.
4 Daarna het hy weer 'n ander slaaf na hulle gestuur, en hierdie een het hulle oor die kop geslaan en verneder.
5 Hy stuur toe nog een. En hierdie een het hulle doodgemaak. Hy het ook baie ander gestuur, van wie hulle sommige geslaan en ander doodgemaak het.
6 Hy het nog net een oorgehad – sy geliefde seun. Heel laaste het hy hom na hulle gestuur met die gedagte: Hulle sal my seun met respek behandel.
7 Daardie landbouers het egter onder mekaar gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood, en die erfdeel sal ons s'n wees.’
8 Hulle het hom toe gegryp en doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi.
9 Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? Hy sal kom, die landbouers doodmaak en die wingerd vir ander gee.
10 Julle het tog hierdie Skrifgedeelte gelees, “ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword.
11 Van die Here het dit gekom, en dit is wonderlik in ons oë.’ ”
12 Hulle wou Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare. Hulle het immers besef dat Hy die gelykenis met die oog op hulle vertel het. Hulle het Hom met rus gelaat en weggegaan.
13 Hulle stuur toe sommige van die •Fariseërs en Herodiane na Hom, sodat hulle Hom op 'n woord kon vastrek.
14 Hulle kom toe en sê vir Hom: “Meester, ons weet dat u opreg is en u aan niemand steur nie, want u neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar onderrig die weg van God waarheidsgetrou. Is dit toelaatbaar om belasting aan die keiser te betaal, of nie? Behoort ons te betaal, of behoort ons nie te betaal nie?”
15 Maar Jesus was bewus van hulle skynheiligheid en sê vir hulle: “Waarom toets julle My? Bring vir My 'n denarius sodat Ek daarna kan kyk.”
16 Hulle bring toe een. Hy vra hulle: “Wie se afbeelding en inskripsie is dit dié?” Hulle antwoord Hom: “Die keiser s'n.”
17 Daarop sê Jesus vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.” Hulle was stomverbaas oor Hom.
18 Die •Sadduseërs kom toe na Hom, hulle wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, en vra Hom:
19 “Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer sterf’ en 'n vrou agterlaat, ‘maar nie 'n kind nalaat nie, sy broer die vrou moet neem en 'n nageslag vir sy broer moet verwek’.
20 Daar was sewe broers. Die eerste het 'n vrou geneem en by sy dood nie 'n nageslag agtergelaat nie.
21 Die tweede het haar toe geneem en gesterf sonder om 'n nageslag agter te laat. Die derde net so.
22 Nie een van die sewe het 'n nageslag agtergelaat nie. Laaste van almal het ook die vrou gesterf.
23 By die opstanding, wanneer hulle opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? Al sewe het haar immers as vrou gehad.”
24 Jesus sê vir hulle: “Is dit nie die rede waarom julle dwaal nie: omdat julle die Skrifte nie ken nie, en ook nie die krag van God nie?
25 Want wanneer hulle uit die dood opstaan, tree hulle nie in die huwelik nie en word hulle ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar hulle is soos engele in die hemele.
26 En wat die opwekking van die dooies betref, julle het tog in die boekrol van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het, ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’
27 Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes. Julle dwaal erg!”
28 Een van die skrifkenners wat hulle hoor redeneer het, het nader gekom. Toe hy sien dat Jesus hulle goed geantwoord het, vra hy Hom: “Watter gebod is die belangrikste van almal?”
29 Jesus het geantwoord: “Die eerste is, ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here.
30 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag’.
31 Die tweede is dit, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is belangriker as dié nie.”
32 Die skrifkenner het vir Hom gesê: “Uitstekend, Meester, dit is waar wat u sê, dat ‘Hy die Enigste is en dat daar geen ander is as Hy nie’.
33 ‘Om Hom lief te hê met jou hele hart, jou hele verstand en met al jou krag, en om jou naaste lief te hê soos jouself’, is belangriker as al die •brandoffers en diereoffers.”
34 Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die •koninkryk van God nie.” Niemand het dit toe meer gewaag om Hom iets te vra nie.
35 Ná hierdie antwoord van Hom het Jesus op die tempelterrein onderrig gegee en gesê: “Hoe is dit dat die skrifkenners sê dat die Christus Dawid se seun is?
36 Dawid self het deur die Heilige Gees gesê: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande onder jou voete geplaas het. ’
37 “Dawid self noem Hom ‘Here’. Hoe kan Hy dan sý seun wees?” Die groot skare het graag na Hom geluister.
38 In sy lering het Jesus gesê: “Pasop vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met lang stolas rond te loop, op die markpleine begroet te word,
39 en die voorste sitplekke in die •sinagoges en ereplekke by die feesmaaltye in te neem.
40 Hulle verslind die huise van die weduwees, en vir die skyn bid hulle lang gebede. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.”
41 Jesus het oorkant die offergawekis gesit en kyk hoe die skare kopermunte in die offergawekis gooi. Baie rykes het baie ingegooi.
42 'n Arm weduwee het gekom en twee lepton, wat saam 'n kwadrant werd is, ingegooi.
43 Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “•Amen, Ek sê vir julle dat hierdie weduwee, wat brandarm is, meer ingegooi het as almal wat geld in die offergawekis gegooi het.
44 Want almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het ten spyte van haar behoeftigheid alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud. ”