Luke 6
1 Op 'n keer het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het are gepluk en met hulle hande uitgevryf en geëet.
2 Sommige van die •Fariseërs sê toe: “Waarom doen julle iets wat op die Sabbat nie toelaatbaar is nie?”
3 Maar Jesus het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en dié saam met hom honger geword het nie?
4 Hoe hy die huis van God binnegegaan en die •vertoonbrode gevat en geëet het, en ook daarvan aan dié wat saam met hom was, gegee het, alhoewel niemand behalwe die priesters daarvan mag eet nie? ”
5 Verder sê Hy vir hulle: “Die •Seun van die Mens – Hy is Heer van die Sabbat.”
6 Op 'n ander Sabbat, toe Hy weer na die •sinagoge gegaan en daar onderrig gegee het, was daar 'n man wie se regterhand verdor was.
7 Die skrifkenners en die •Fariseërs het Hom dopgehou om te sien of Hy op die Sabbat iemand gesond sou maak, sodat hulle iets kon hê waarvan hulle Hom kon aankla.
8 Maar Hy het geweet wat in hulle gedagtes aangaan, en vir die man met die gebreklike hand gesê: “Kom staan hier tussen ons.” Die man het opgestaan en daar gaan staan.
9 Toe sê Jesus vir hulle: “Ek vra julle, is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen, of sleg te doen, om 'n lewe te red, of dit ten gronde te laat gaan?”
10 Nadat Hy in die rondte na hulle almal gekyk het, sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Hy het dit gedoen, en sy hand het gesond geword.
11 Hulle was egter buite hulleself van woede, en het onder mekaar beraadslaag oor wat hulle met Jesus kon doen.
12 In dié tyd het Jesus uitgegaan na die berg om te bid, en Hy het die nag deurgebring in gebed met God.
13 Teen dagbreek het Hy toe sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, en Hy het hulle •apostels genoem.
14 Hulle was Simon, wat Hy ook •Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus,
15 Matteus en Thomas, Jakobus, seun van Alfeus, Simon met die naam “Seloot”,
16 en Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskariot, wat 'n verraaier geword het.
17 Nadat Hy saam met hulle van die berg af gekom het, het Hy op 'n gelykte gaan staan. Daar was 'n groot groep van sy dissipels en ook 'n menigte mense uit die volk – van oor die hele Judea en Jerusalem, en ook uit die kusstreke rondom Tirus en Sidon.
18 Hulle het gekom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook mense wat deur •onrein geeste gepla is, is daarvan genees.
19 En die hele skare het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan en Hy almal genees het.
20 Toe het Hy sy oë op sy dissipels gerig en gesê: “Gelukkig is julle wat arm is, want die •koninkryk van God behoort aan julle.
21 Gelukkig is julle wat nou honger ly, want julle sal versadig word. Gelukkig is julle wat nou huil, want julle sal lag.
22 Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat en verstoot en uitskel en julle name deur die modder sleep ter wille van die •Seun van die Mens.
23 “Wees bly op daardie dag, en spring op van vreugde, want kyk, julle beloning in die hemel is groot. Hulle voorvaders het immers die profete net so behandel.
24 “Maar wee julle wat ryk is, want julle het reeds julle troos weg.
25 Wee julle wat nou versadig is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en huil.
26 Wee julle wanneer al die mense net goed van julle praat, want hulle voorvaders het die vals profete net so behandel.”
27 “Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan diegene wat julle haat.
28 Seën die mense wat julle vervloek. Bid vir diegene wat julle sleg behandel.
29 As iemand jou op die een wang slaan, draai vir hom ook die ander een. En as iemand jou bokleed vat, moet hom ook jou onderkleed nie weier nie.
30 Gee aan elkeen wat iets van jou vra, en wanneer iemand vat wat aan jou behoort, moet jy dit nie terugeis nie.
31 Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle.
32 As julle diegene liefhet wat vir julle liefhet, hoe kan julle enige dank verwag? Want ook die sondaars het diegene lief wat hulle liefhet.
33 En as julle net goeie dinge doen vir die mense wat goeie dinge vir julle doen, hoe kan julle enige dank verwag? Die sondaars doen dieselfde.
34 En as julle net geld uitleen aan mense van wie julle hoop om dit terug te kry, hoe kan julle enige dank verwag? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar net dieselfde bedrag kan terugkry.
35 Nee, julle moet julle vyande liefhê, doen goeie dade, en leen uit sonder om iets terug te verwag. Dan sal julle 'n groot beloning ontvang en kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self die ondankbares en slegtes goed behandel.
36 Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.”
37 “Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word.
38 Gee, en aan julle sal gegee word – 'n goeie maat, saamgepers, ingeskud en tot oorlopens toe vol, sal in julle skoot val. Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word. ”
39 Hy het ook 'n gelykenis vir hulle vertel: “Een blinde kan tog nie 'n ander blinde rondlei nie? Sal hulle dan nie albei in 'n sloot val nie?
40 'n Dissipel is nie belangriker as sy leermeester nie; maar as hy sy opleiding voltooi het, sal hy sy leermeester se gelyke wees.
41 “Waarom sien jy die splinter in jou •broer se oog raak, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?
42 Hoe kan jy vir jou broer sê, ‘Broer, laat my toe om die splinter uit jou oog te haal,’ terwyl jy die balk in jou eie oog nie raaksien nie? Skynheilige! Haal eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.”
43 “'n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en 'n slegte boom dra weer nie goeie vrugte nie.
44 Elke boom word aan sy eie vrug geken. Van 'n doringstruik pluk 'n mens tog nie vye of van 'n doringbos 'n tros druiwe nie.
45 'n Goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die goeie skatkamer van sy hart, en 'n slegte mens bring die slegte voort uit die slegtheid wat in hom is; want waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”
46 “ Waarom noem julle My ‘Here, Here!’ maar julle doen nie wat Ek sê nie?
47 “Elkeen wat na My toe kom en my woorde hoor en daarvolgens handel – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is:
48 Hy is soos 'n man wat besig was om 'n huis te bou. Hy het gespit en diep gegrawe, en die fondament op die rots gelê. Toe daar 'n oorstroming kom en die vloedwater die huis tref, kon dit die huis nie laat ineenstort nie, omdat dit goed gebou was.
49 “Maar wie hoor en nie doen nie, is soos 'n man wat 'n huis sonder 'n fondament op die grond bou. As die vloedwaters dit tref, stort dit onmiddellik ineen. Die verwoesting van daardie huis was geweldig.”