Bible

Focus

On Your Ministry and Not Your Media

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Leviticus 1

:
Afrikaans - AFR20
1 Die Here het Moses geroep en uit die Tent van Ontmoeting met hom gepraat. Hy het vir hom gesê:
2 Praat met die Israeliete en vir hulle, ‘Wanneer een van julle vir die Here 'n offer wil bring, moet julle van julle vee as 'n offer aanbied, van die beeste of van die kleinvee.
3 ‘As die persoon se offer 'n •brandoffer is uit die beeste, moet dit 'n bul sonder gebrek wees wat hy bring. Hy moet dit na die ingang van die •Tent van Ontmoeting bring en dit so aanbied dat hy voor die Here aanvaarbaar is.
4 Hy moet sy hand op die kop van die brandofferdier sodat dit namens hom aanvaar kan word om oor hom versoening te doen.
5 Daarna moet hy die jong bul voor die Here keelaf sny en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed naderbring en dit sprinkel reg rondom teen die altaar wat by die ingang van die Tent van Ontmoeting staan.
6 Die dier vir die brandoffer moet dan afgeslag en in stukke opgesny word.
7 Die seuns van die priester Aäron moet vuur op die altaar plaas en hout daarop rangskik.
8 Die seuns van Aäron, die priesters, moet dan die stukke en die kop en niervet rangskik bo-op die hout wat op die vuur op die altaar is.
9 Die persoon wat offer moet die binnegoed en pote met water afspoel. Die priester moet dit alles op die altaar verbrand. Dit is 'n brandoffer, 'n offergawe met 'n aangename geur vir die Here.
10 ‘As sy offer 'n brandoffer is uit die kleinvee, uit die skape of bokke, moet dit 'n ram sonder gebrek wees wat hy bring.
11 Hy moet dit aan die noordekant van die altaar voor die Here keelaf sny. Die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel.
12 Die dier moet in stukke opgesny word, en die priester moet dit saam met die kop en die niervet rangskik bo-op die hout wat op die vuur op die altaar is.
13 Die persoon wat offer moet die binnegoed en pote met water afspoel. Die priester moet dit alles naderbring en op die altaar verbrand. Dit is 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here.
14 ‘As sy offer vir die Here 'n brandoffer is uit die voëls, moet dit 'n tortelduif of 'n jong duif wees.
15 Die priester moet dit na die altaar bring. Hy moet die kop afknyp en op die altaar verbrand. Die bloed moet teen die sykant van die altaar uitgedruk word.
16 Die persoon wat offer moet die krop en die derms verwyder en dit gooi op die plek waar die vetterige as gegooi word, aan die oostekant van die altaar.
17 Hy moet die duif by die vlerke oopskeur sonder om dit in twee te verdeel. Dan moet die priester dit op die altaar verbrand, bo-op die hout wat op die vuur is. Dit is 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here.