Joshua 21
1 Die familiehoofde van die Leviete het Eleasar, die priester, Josua, seun van Nun, en die familiehoofde van die stamme van die Israeliete genader
2 en met hulle in Silo, in die land Kanaän, gepraat. Hulle het gesê: “Die Here self het by monde van Moses beveel dat dorpe aan ons afgestaan moet word om in te woon, asook hulle meentgrond vir ons vee.”
3 Die Israeliete het toe, volgens die bevel van die Here, uit hulle erfdeel hierdie dorpe en hulle meentgrond aan die Leviete afgestaan.
4 Die uitkoms van die lot vir die familiegroepe van Kehat was soos volg: Vir die nageslag van Aäron, die priester uit die Leviete, is daar uit die stamgebiede van Juda, Simeon en Benjamin dertien dorpe deur die lot toegeken;
5 vir die res van die nageslag van Kehat is daar uit die stamgebiede van Efraim en Dan en die halwe stam van Manasse se familiegroepe tien dorpe deur die lot toegeken;
6 vir die nageslag van Gerson is daar uit die stamgebiede van Issaskar, Aser en Naftali en die halwe stam van Manasse in Basan se familiegroepe dertien dorpe deur die lot toegeken; en
7 vir die nageslag van Merari, vir hulle familiegroepe, was dit twaalf dorpe uit die stamgebiede van Ruben, Gad en Sebulon.
8 Die Israeliete het aan die Leviete hierdie dorpe en hulle meentgrond afgestaan deur die lot, soos die Here by monde van Moses beveel het.
9 Hulle het uit die stamgebiede van die nageslag van Juda en Simeon die volgende dorpe wat by die naam genoem word, afgestaan –
10 dit was vir die nageslag van Aäron uit die familiegroepe van Kehat uit die Leviete, want die eerste loting was vir hulle:
11 Hulle het aan hulle Kirjat-Arba afgestaan in die bergland van Juda, met sy meentgrond rondom. Dit is Hebron. Arba was die voorvader van Enak.
12 Die saaigrond van die dorp en sy gehuggies het hulle vir Kaleb, seun van Jefunne, as erfgrond gegee.
13 Vir die nageslag van die priester Aäron, het hulle Hebron met sy meentgrond afgestaan, die asielstad vir dié wat doodslag begaan het; ook Libna met sy meentgrond,
14 Jattir met sy meentgrond, Estemoa met sy meentgrond,
15 Golon met sy meentgrond, Debir met sy meentgrond,
16 Ajin met sy meentgrond, Jutta met sy meentgrond en Bet-Semes met sy meentgrond – nege dorpe van hierdie twee stamme.
17 Uit die stamgebied van Benjamin was dit Gibeon met sy meentgrond, Geba met sy meentgrond,
18 Anatot met sy meentgrond en Almon met sy meentgrond – vier dorpe.
19 Die dorpe van die nageslag van Aäron, die priesters, met hulle meentgrond, was altesaam dertien.
20 Vir die familiegroepe van die nageslag van Kehat, die res van die Leviete uit die nageslag van Kehat, was die dorpe wat deur die lot aangewys is uit die stamgebied van Efraim, die volgende:
21 Hulle het Sigem, die asielstad vir dié wat doodslag begaan het, met sy meentgrond, in die heuwelland van Efraim aan hulle afgestaan, ook Geser met sy meentgrond,
22 Kibsajim met sy meentgrond en Bet-Goron met sy meentgrond – vier dorpe.
23 Uit die stamgebied van Dan was dit Elteke met sy meentgrond, Gibbeton met sy meentgrond,
24 Ajalon met sy meentgrond en Gat-Rimmon met sy meentgrond – vier dorpe.
25 Uit die halwe stam van Manasse se gebied was dit Taänag met sy meentgrond en Gat-Rimmon met sy meentgrond – twee dorpe.
26 Al tien hierdie dorpe met hulle meentgrond was vir die res van die familiegroepe van Kehat se nageslag.
27 Uit die een helfte van die stamgebied van Manasse was daar vir die nageslag van Gerson uit die Levitiese familiegroepe, Golan in Basan, die asielstad vir dié wat doodslag begaan het, met sy meentgrond, en Astarot met sy meentgrond – twee dorpe.
28 Uit die stamgebied van Issaskar was dit Kisjon met sy meentgrond, Daberat met sy meentgrond,
29 Jarmut met sy meentgrond en En-Gannim met sy meentgrond – vier dorpe.
30 Uit die stamgebied van Aser was dit Misal met sy meentgrond, Abdon met sy meentgrond,
31 Gelkat met sy meentgrond en Regob met sy meentgrond – vier dorpe.
32 Uit die stamgebied van Naftali was dit Kedes in Galilea, die asielstad vir dié wat doodslag begaan het, met sy meentgrond, Gammot-Dor met sy meentgrond en Kartan met sy meentgrond – drie dorpe.
33 Die dorpe van die Gersongroep, vir hulle familiegroepe, was altesaam dertien, met hulle meentgrond.
34 Vir die familiegroepe van Merari se nageslag, die res van die Leviete, was daar uit die stamgebied van Sebulon: Jokneam met sy meentgrond, Karta met sy meentgrond,
35 Dimna met sy meentgrond en Nahalal met sy meentgrond – vier dorpe.
36 Uit die stamgebied van Ruben was dit Beser met sy meentgrond, Jahas met sy meentgrond,
37 Kedemot met sy meentgrond, en Mefaät met sy meentgrond – vier dorpe.
38 Uit die stamgebied van Gad was dit Ramot in Gilead, die asielstad vir dié wat doodslag begaan het, met sy meentgrond, Maganajim met sy meentgrond,
39 Gesbon met sy meentgrond en Jaser met sy meentgrond – altesaam vier dorpe.
40 Die loting van dorpe vir die oorblywende familiegroepe van die nageslag van Merari, Levitiese familiegroepe, was altesaam twaalf dorpe.
41 Die Levitiese dorpe binne die erfgrond van die Israeliete was altesaam agt-en-veertig dorpe met hulle meentgrond.
42 Elkeen van hierdie dorpe moes sy meentgrond rondom hê. So was dit by al hierdie dorpe.
43 Die Here het aan Israel die hele land gegee wat Hy beloof het om aan hulle voorvaders te gee. Hulle het dit in besit geneem en daar gaan woon.
44 Die Here het vir hulle rus gegee aan alle kante, net soos Hy aan hulle voorvaders beloof het. Van al hulle vyande kon niemand voor hulle staande bly nie. Al hulle vyande het die Here in hulle hand gegee.
45 Nie 'n woord van al die goeie beloftes wat die Here aan die huis van Israel gemaak het, het onvervuld gebly nie; alles is vervul.