Joshua 16
1 Die uitkoms van die lot vir die nageslag van Josef was soos volg: Die grens begin by die Jordaan teenoor Jerigo, aan die oostekant van die Jerigo-fonteine. Deur die droë deel loop die grens vanaf Jerigo op in die berggebied van Bet-El.
2 Vanaf Bet-El strek dit verder na Lus en gaan dan verby die gebied van die mense van Ereg na Atarot.
3 Dan daal dit wes, af na die gebied van die mense van Jaflet, tot by die grens van Bet-Goron-Onder, tot by Geser, met sy verste punt by die see.
4 Die nageslag van Josef, Manasse en Efraim, het dit alles as erfdeel ontvang.
5 Dit was die grens van die nageslag van Efraim, vir hulle familiegroepe: Die grens van hulle erfdeel was van Atrot-Addar aan die oostekant tot by Bet-Goron-Bo.
6 Die grens strek verder tot by die see, met Migmetat aan die noordekant. Die grens draai oos na Taänat-Silo, en gaan aan die oostekant daarvan verby na Janoag.
7 Van Janoag af loop dit af na Atarot en Naära, dit grens aan Jerigo en strek verder na die Jordaan.
8 Van Tappuag af loop die grens wes langs die spruit by Kana, met sy verste punt by die see. Dit is die erfdeel van die stam van Efraim se nageslag, vir hulle familiegroepe.
9 Daar was dorpe wat uitgehou is vir die nageslag van Efraim binne die erfdeel van die nageslag van Manasse – al die dorpe saam met hulle gehuggies.
10 Hulle het egter nie die Kanaäniete verdryf wat in Geser gewoon het nie. Die Kanaäniete het in Efraim bly woon, maar hulle moes dwangarbeid verrig; dit is vandag nog so.