Jeremiah 8
1 “In daardie tyd,” is die uitspraak van die Here, “sal hulle die beendere van die konings van Juda, die beendere van die •hoë amptenare, die priesters, die profete en die beendere van die inwoners van Jerusalem uit hulle grafte haal
2 en dit oopsprei voor die son en die maan en al die hemelliggame vir wie hulle lief was, wat hulle gedien het, waaragter hulle aangeloop het, wat hulle geraadpleeg het en voor wie hulle in aanbidding gebuig het. Dit sal nie weer bymekaargemaak en begrawe word nie. Dit sal mis word op die grond.
3 Die dood sal verkieslik wees bo die lewe vir die res, almal wat oorbly van hierdie bose geslag op al die oorblywende plekke waarheen Ek hulle verdryf het,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.
4 “Jy moet vir hulle sê, ‘so sê die Here: “Sal mense val en nie weer opstaan nie? Of sal iemand wegdraai en nie weer terugdraai nie?
5 Waarom is hierdie volk, hierdie Jerusalem afvallig, met 'n blywende afvalligheid? Hulle hou vas aan misleiding, hulle weier om terug te draai.
6 Ek het aandagtig geluister en gehoor dat wat hulle sê, nie reg is nie. Niemand het berou oor sy boosheid, deur te sê, ‘Wat het ek gedoen?’ nie. In hulle vaart draai elkeen weg, soos 'n perd wat die geveg instorm.
7 Selfs die ooievaar in die lug ken sy vasgestelde tye, tortelduiwe, swaeltjies en kraanvoëls hou by die tyd van hulle koms, maar my volk ken nie die reëls van die Here nie.
8 Hoe kan julle dan sê, ‘Ons is wys, die Here se wet is by ons’? Kyk, skrywers se leuenagtige pen het dit leuens gemaak.
9 Wyses sal beskaamd staan, verslae wees en gevange geneem word. Kyk, hulle het die Here se woord verwerp. Watter soort wysheid het hulle dan?
10 Daarom gee Ek hulle vroue aan ander, en hulle landerye aan veroweraars; want klein en groot, almal maak onregverdige wins, van profeet tot priester, almal pleeg bedrog.
11 Hulle wil die ineenstorting van die dogter van my volk op 'n maklike manier herstel deur te sê, ‘Vrede, vrede!’ maar daar is geen vrede nie.
12 Staan hulle beskaamd omdat hulle afstootlik opgetree het? Nee! Erger nog, hulle skaam hulle hoegenaamd nie; om skaam te wees, dit ken hulle nie! Daarom sal hulle val saam met die gesneuweldes; in die tyd wanneer met hulle afgereken word, sal hulle tot 'n val kom,” ’ ” het die Here gesê.
13 “ ‘ “Ek gaan hulle beslis wegvat,” ’ ” is die uitspraak van die Here. “ ‘ “Daar sal geen druiwe aan die wingerdstok wees nie, geen vye aan die vyeboom nie, en die blare sal verdor. Ek het dit aan die veroweraars gegee; hulle sal dit verwoes. ” ’ ”
14 “ Waarom bly ons nog sit? Kom byeen! Laat ons in die versterkte stede ingaan, en daar omkom. Ja, die Here ons God laat ons omkom. Hy gee ons giftige water om te drink, omdat ons gesondig het teen die Here.
15 Ons het gehoop op vrede, maar daar is niks goeds nie, op 'n tyd van genesing, maar kyk, daar is verskrikking.
16 Van Dan af hoor ons die geproes van die vyand se perde; vir die harde gerunnik van hulle hingste bewe die hele land. Hulle kom in en verslind die land met alles daarin, ook dorpe met die inwoners daarin.”
17 “ ‘ “Ja, kyk, Ek stuur slange, kobras, onder julle in waarteen geen beswering bestaan nie. Hulle sal julle byt,” ’ ” is die uitspraak van die Here,
18 “ ‘ “sonder dat daar genesing is.” ’ ” Droefheid oorval my; my hart is siek in my.
19 Hoor daar! Die hulpgeroep van die dogter van my volk uit 'n ver land: “Is die Here nie in Sion nie? Is haar Koning nie in haar nie?” “ ‘ “Waarom tart hulle My met hulle gesnede beelde, met hulle vreemde, nietige afgode?” ’ ”
20 “Die graanoes is verby, die someroes is agter die rug; maar ons, ons is nie gered nie!”
21 Oor die ineenstorting van die dogter van my volk is ek gebroke. Ek is in rou, ontsetting het my aangegryp.
22 Is daar dan nie balsem in Gilead nie, is daar nie 'n geneser nie? Ja, waarom vind die herstel van die dogter van my volk nie plaas nie?