Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Jeremiah 51

:
Afrikaans - AFR20
1 So die Here: “Kyk, Ek gaan teen Babel en teen die inwoners van Leb Qamai 'n vernietigende wind laat opsteek.
2 Ek gaan teen Babel vreemdes stuur; hulle sal haar uitwan en haar land kaal stroop. Ja, hulle sal reg rondom haar teen haar stelling inneem op die dag van onheil.
3 Die boogskutter moet nie sy boog kan span nie, nie in sy harnas orent kan kom nie. Moenie haar jong manne bejammer nie, tref haar hele leër met die banvloek!
4 Deurboordes sal val in die land van die Galdeërs, en die swaar gewondes in haar strate.
5 Want Israel en Juda is nie weduwees nie, nie sonder hulle God, sonder die Here, Heerser oor alle magte, nie, maar hulle land was vol skuld voor die Heilige van Israel.”
6 Vlug weg uit Babel, laat elkeen sy eie lewe red! Sorg dat julle nie omkom weens haar sondeskuld nie. Want dit is 'n tyd van wraak vir die Here; ooreenkomstig wat sy verdien, reken Hy met haar af.
7 Babel was 'n goue beker in die hand van die Here, 'n beker wat die hele wêreld dronk gemaak het. Van haar wyn het die nasies gedrink; daarom het die nasies waansinnig geraak.
8 Onverwags kom Babel tot 'n val, stort sy ineen. Huil oor haar, kry balsem vir haar pyn! Miskien kan sy genees word.
9 “Ons wou Babel gesond maak, maar sy kan nie genees word nie. Verlaat haar! Kom ons gaan elkeen na sy eie land; want tot aan die hemel reik die oordeel oor haar, en tot aan die wolke strek dit.”
10 Die Here het ons regte weer na vore gebring. Kom, laat ons in Sion vertel van die daad van die Here ons God.
11 Maak skerp die pyle! Vul die kokers! Die Here het die gees van die konings van Medië aangevuur; want sy plan is teen Babel gerig, om haar te verwoes. Ja, dit is die wraak van die Here, die wraak vir sy •tempel.
12 Rig by die stadsmuur van Babel 'n banier op! Versterk die wagposte; plaas wagte uit! Kry dié wat in hinderlae lê, gereed! Ja, die Here het sowel beplan as uitgevoer wat Hy vir die inwoners van Babel gesê het.
13 Jy wat langs baie waters woon, met baie skatte, jou einde het aangebreek, jou lewensdraad is geknip.
14 Die Here, Heerser oor alle magte, het by Homself 'n eed afgelê: “Ek maak jou vol mense, soos met voetgangersprinkane hulle sal oorwinningskrete oor jou aanhef.”
15 Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gevestig het deur sy wysheid, en deur sy insig die hemel oopgespan het
16 in sy stem, wanneer Hy dit laat hoor, is daar die gedruis van water in die hemel. Hy laat stapelwolke opstyg aan die einde van die aarde; Hy maak weerligstrale vir die reën; Hy laat die wind vry uit sy voorraadkamers.
17 Alle mense bewys hulleself dom, sonder kennis. Elke goudsmid staan beskaamd oor sy afgodsbeelde, want sy gietsels is bedrog daar is nie asem in hulle nie.
18 Hulle is nikswerd afgode, bespotlike maaksels. In die tyd wanneer daar met hulle afgereken word, gaan hulle tot niet.
19 Die erfdeel van Jakob is nie soos hulle nie; want Hy is die Een wat alles vorm, en Israel is die stam van sy erfenis die Here, Heerser oor alle magte, is sy Naam.
20 Jy is vir My 'n knuppel, 'n krygswapen. Met jou verbrysel Ek nasies; met jou verwoes Ek koninkryke.
21 Met jou verbrysel Ek perde en ruiters; met jou verbrysel Ek strydwaens en bemanning.
22 Met jou verbrysel Ek mans en vroue; met jou verbrysel Ek ou mense en jong mense; met jou verbrysel Ek jong mans en jong meisies.
23 Met jou verbrysel Ek herders en kuddes; met jou verbrysel Ek landbouers en trekdiere; en met jou verbrysel Ek •streekgoewerneurs en landvoogde.
24 “Ek vergeld Babel en alle inwoners van Galdeë al hulle boosheid wat hulle voor julle in Sion aangerig het,” is die uitspraak van die Here.
25 “Kyk, dit is Ek teen jou, berg van die verwoester, verwoester van die hele aarde!” is die uitspraak van die Here. “Ek gaan my hand teen jou uitstrek, jou van die kranse laat afrol. Ek gaan van jou 'n uitgebrande berg maak,
26 sodat daar uit jou nie 'n klip as hoeksteen of 'n klip as fondamentsteen geneem kan word nie. Ja, 'n woesteny sal jy vir altyd wees, is die uitspraak van die Here.
27 Hou 'n banier omhoog in die land! Blaas die •ramshoring onder die nasies! Heilig nasies teen haar! Roep die koninkryke van Ararat, Minni en Askenas teen haar op! Stel 'n bevelvoerder teen haar aan! Laat perde optrek soos stekelrige sprinkane!
28 Heilig nasies teen haar die konings verbonde aan Medië, hulle streekgoewerneurs, al hulle landvoogde, en elke land waaroor hulle heerskappy voer.
29 Die aarde skud en krimp ineen, want die planne van die Here teen Babel word uitgevoer om die land Babilonië 'n woesteny te maak, sonder inwoners.
30 Die helde van Babel het opgehou veg; hulle sit in die bergvestings. Hulle kragte is uitgeput; hulle het geword soos vroue. Haar wonings is aan die brand gesteek, haar sluitbalke is gebreek.
31 Hardlopers ontmoet mekaar in die hardloop, die een boodskapper die ander, om aan die koning van Babilonië berig te bring dat sy stad aan alle kante ingeneem word:
32 “Die driwwe is oorgeneem! Die biesies is aan die brand gesteek! Die krygsmanne is angsbevange!”
33 Ja, so die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Die dogter van Babel is soos 'n dorsvloer gereed om vasgetrap te word: Nog net 'n rukkie, dan breek die oestyd vir haar aan.”
34 “Nebukadresar, die koning van Babilonië, het ons verswelg, ons leeg gedrink, ons soos 'n leë houer neergesit. Hy het ons soos 'n seemonster ingesluk; hy het sy buik gevul met ons as 'n lekkerny, en ons uitgespoeg.
35 Mag die geweld teen ons en ons bloedverwante rus op Babel!” die inwoners van Sion. “Mag my bloed rus op die inwoners van Galdeë!” Jerusalem.
36 Daarom, so die Here: “Kyk, Ek gaan jou regstryd voer en jou wraak voltrek. Ek sal haar see drooglê en haar bron laat opdroog.
37 Babel sal klipstapels word, 'n lêplek vir woestynjakkalse, 'n skrikbeeld en die rede vir 'n gefluit, sonder inwoners.
38 Saam brul hulle soos jong leeus; hulle grom soos leeuwelpies.
39 Wanneer hulle opgewerk is, sit Ek vir hulle 'n feesmaal voor en maak hulle dronk, sodat hulle uitgelate raak. Hulle sal 'n ewige slaap ingaan en nie weer wakker word nie,” is die uitspraak van die Here.
40 “Ek sal hulle soos lammers neertrek vir die slagting, soos skaap- en bokramme.
41 Hoe word Sjesjag nie ingeneem, die roem van die hele aarde nie verower nie! Hoe word Babel nie 'n skrikbeeld onder die nasies nie!
42 Die see stoot oor Babel; met die gedruis van sy golwe is sy bedek.
43 Haar stede word 'n woesteny, 'n droë land en 'n dor vlakte, 'n land waarin niemand sal woon nie, en waar geen mens sal deurtrek nie.
44 Ek sal van Bel rekenskap eis in Babel, en wat hy ingesluk het, uit sy mond uithaal. Na hom sal nasies nie meer stroom nie; selfs Babel se stadsmuur sal val.
45 Gaan uit haar uit, my volk! Red elkeen van julle sy eie lewe weg van die brandende toorn van die Here!
46 Anders raak julle lafhartig en bang wanneer gerugte in die land gehoor word. Een gerug doen hierdie jaar die rondte, 'n ander een die volgende jaar, ‘Daar is geweld in die land, regeerder teen regeerder!’
47 Daarom, kyk, daar kom dae wanneer Ek rekenskap sal eis van die afgodsbeelde van Babel; haar hele land sal beskaamd staan, al haar gewondes sal binne-in haar val.
48 Hemel en aarde, alles daarin, sal oor Babel jubel; want uit die noorde kom hulle na haar die verwoesters,” is die uitspraak van die Here.
49 Ook Babel moet val vir die gesneuweldes van Israel, soos gesneuweldes van die hele aarde ook vir Babel geval het.
50 Julle wat aan die swaard ontkom het, gaan weg! Moenie bly staan nie! Dink daar in die verte aan die Here! Jerusalem sal in julle harte opkom.”
51 “Ons staan beskaamd, want ons moes bespotting aanhoor; vernedering het ons gesigte bedek. Ja, vreemdes het in die gewyde plekke van die huis van die Here ingegaan.”
52 “Daarom, kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek oor haar afgodsbeelde rekenskap sal eis; dwarsoor haar hele grondgebied sal gewondes kreun.
53 Al sou Babel hemelhoog verrys, al sou sy haar versterkte hoogte ontoeganklik maak, van My af sal verwoesters na haar toe kom,” is die uitspraak van die Here.
54 Daar klink 'n hulpgeroep op uit Babel, die geluid van totale ineenstorting uit die land van die Galdeërs.
55 Want die Here gaan Babel verwoes, en die groot rumoer uit haar laat verdwyn. Die vyande se golwe sal dreun soos magtige waters, die geluid van hulle gedruis sal weergalm.
56 Ja, teen haar, teen Babel, trek 'n verwoester op. Haar helde word gevange geneem, hulle boë word stukkend gebreek; want 'n God van vergelding is die Here Hy sal ten volle vergeld.
57 “Ek maak haar bevelvoerders, haar wyses, haar streekgoewerneurs, haar landvoogde en haar helde dronk. Hulle sal 'n ewige slaap ingaan en nie weer wakker word nie,” is die uitspraak van die Koning. Die Here, Heerser oor alle magte, is sy Naam.
58 So die Here, Heerser oor alle magte: “Die dik stadsmuur van Babel sal heeltemal afgebreek word; haar hoë poorte sal afgebrand word. Volke het hulle vermoei vir niks, en nasies vir die vuur; hulle het hulle afgesloof.”
59 Dit is die saak wat die profeet Jeremia aan Seraja, seun van Nerija, seun van Magseja, opgedra het, toe hy saam met Sedekia, koning van Juda, in die vierde jaar van sy koningskap, na Babel gegaan het. Seraja was kwartiermeester.
60 Jeremia het al die onheil wat Babel sou tref, al hierdie woorde wat oor Babel geskryf is, in een •boekrol neergeskryf.
61 Jeremia het vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy sorg dat jy al hierdie woorde hardop lees
62 en sê, Here, U het self oor hierdie plek gesê dat U dit sal vernietig, sodat daar nie meer inwoners sal wees nie, nie mens of dier nie, maar dat dit vir altyd 'n woesteny sal wees.’
63 Wanneer jy hierdie boekrol dan klaar gelees het, moet jy 'n klip daaraan vasmaak, dit in die middel van die Eufraat gooi
64 en sê, ‘Só sal Babel sink en nie weer opkom nie, vanweë die onheil wat Ek oor haar bring.’ “Hulle het hulle afgesloof.” Tot daar was dit die woorde van Jeremia.