Jeremiah 14AFR20

1Die woord van die Here wat tot Jeremia gekom het na aanleiding van die groot droogte.

2“Juda treur, en sy poorte kwyn weg; die mense sit in rouklere op die grond, 'n gejammer styg van Jerusalem af op.

3Hulle vername mense stuur hulle onderhoriges om water te gaan haal. Hulle kom by die kuile, maar kry geen water nie; hulle kom terug met leë houers; hulle staan beskaamd en voel verneder; hulle bedek hulle koppe.

4Vanweë die grond, wat uitmekaar bars omdat dit nie gereën het nie, staan die landbouers beskaamd; hulle bedek hulle koppe.

5Ja, selfs wildsbokke in die veld lam, maar gooi die lammers weg, omdat daar geen groenigheid is nie.

6Wildedonkies staan op die kaal hoogtes; hulle snuif die lug soos jakkalse. Hulle oë raak dof, want daar is geen veldplante nie.”

7“ Al getuig ons sondeskuld teen ons, Here, tree op ter wille van u Naam! Ja, ons afvalligheid is erg; teen U het ons gesondig.

8Hoop van Israel, sy Verlosser in tyd van nood, waarom is U soos 'n vreemdeling in die land, soos 'n reisiger wat net afdraai om te oornag?

9Waarom is U soos iemand wat onkant gevang is, soos 'n held wat nie kan verlos nie? U is tog in ons midde, Here; U Naam is oor ons uitgeroep. Moet ons nie aan onsself oorlaat nie!”

10So sê die Here oor hierdie volk: “Hulle is tog so lief om af te dwaal, hulle hou nie hulle voete in bedwang nie; die Here aanvaar hulle nie. Nou gaan Hy hulle sondeskuld in herinnering roep, en Hy gaan rekenskap oor hulle sondes eis.”

11Die Here het vir my gesê: “Moenie bid vir hierdie volk se welstand nie!

12Wanneer hulle vas, luister Ek nie na hulle klaagroep nie; en wanneer hulle •brandoffers en •graanoffers bring, aanvaar Ek hulle nie. Maar met die swaard, hongersnood en pessiekte sal Ek 'n einde aan hulle maak.”

13Toe het ek gesê: “Ag, Here, my Heer, kyk, die profete sê vir hulle, ‘Julle sal geen swaard sien nie, en geen hongersnood lê vir julle voor nie, maar voortdurende vrede gee Ek vir julle op hierdie plek.’ ”

14Die Here het toe vir my gesê: “Dit is leuens wat die profete in my Naam profeteer. Ek het hulle nie gestuur nie en hulle nie opdragte gegee nie. Ek het nie met hulle gepraat nie. Dit is 'n vals visioen, sinlose waarsêery en 'n bedrogspul uit hulle eie harte wat hulle vir julle as profesieë opdis.

15Daarom, so sê die Here oor die profete wat in my Naam profeteer, terwyl Ek hulle nie gestuur het nie, hulle wat aanhou sê dat die swaard en hongersnood nie in hierdie land sal kom nie, ‘Deur die swaard en hongersnood sal daardie profete omkom.

16Die volk vir wie hulle profeteer, sal in die strate van Jerusalem weggegooi word deur hongersnood en die swaard. Maar daar sal niemand wees wat hulle begrawe nie. Dit geld vir hulle, hulle vroue, hulle seuns en dogters. Ek sal hulle eie boosheid oor hulle uitstort.’

17“Jy moet vir hulle hierdie woorde sê, ‘My oë moet dag en nag vloei met trane, en nie tot rus kom nie; want deur 'n groot ineenstorting is sy gebreek – die jongvrou, die dogter van my volk – deur 'n uiters pynlike wond.

18As ek uitgaan na die veld – daar is die gesneuweldes deur die swaard! As ek die stad binnegaan – daar is die lyding van die hongersnood! Want sowel die profete as die priesters swerf rond in 'n land wat hulle nie ken nie.’ ”

19Het U Juda dan heeltemal verwerp? Of het U 'n hartgrondige afkeer in Sion? Waarom het U ons geslaan sonder dat daar vir ons genesing is? Ons het gehoop op vrede, maar daar was niks goeds nie, op 'n tyd van herstel, maar kyk, daar is net verskrikking.

20Ons erken ons goddeloosheid, Here, die sondeskuld van ons voorouers. Ja, ons het teen U gesondig.

21Moet ons nie verstoot nie, ter wille van u Naam; moenie u heerlike troon ontwy nie! Onthou tog – moenie u verbond met ons verbreek nie!

22Is daar onder die nietige afgode van die nasies enige een wat kan laat reën? Of kan die hemel vanself stortreëns gee? Is dit nie U nie, Here ons God? Ons wag op U, want U is die een wat dit alles gemaak het.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Jeremiah 14.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.