Jeremiah 10
1 Hoor die woorde wat die Here oor julle uitgespreek het, huis van Israel!
2 So sê die Here: “Moenie die gebruike van die nasies aanleer nie; vir tekens aan die hemelruim moet julle nie bevrees wees omdat die nasies daarvoor bevrees is nie.
3 Ja, die gebruike van die volke, dit is nietig; want hulle kap 'n boom in die bos af – die handewerk van 'n ambagsman met 'n byl.
4 Met silwer en goud versier hulle dit, met spykers en hamers maak hulle dit stewig, sodat dit nie wankel nie.
5 Die beelde is soos 'n palmboom van pletwerk. Hulle kan nie praat nie, hulle moet gedurig gedra word; want hulle kan nie 'n voet versit nie. Moenie vir hulle bang wees nie, want hulle kan nie skade aanrig nie; en om goed te doen bestaan ook nie by hulle nie.”
6 Nie een is soos U nie, Here. U is groot, en u Naam is groot in krag.
7 Wie sou nie vir U ontsag hê nie, Koning van die nasies? Ja, vir U is dit van pas, want onder al die wyses van die nasies en in al hulle koninkryke, is daar niemand soos U nie.
8 In een opsig is hulle dom en dwaas: Die vermaning deur nietige afgode kom van 'n stuk hout!
9 Die silwerbeslag word uit Tarsis gebring, die goud uit Ufas. Dit is die werk van 'n ambagsman; dit kom uit die hande van 'n goudsmid. Pers en purperrooi is die afgode se klere; dit is alles die werk van vaardige vakmanne.
10 Maar die Here is waarlik God, Hy is die lewende God en ewige Koning. Vir sy grimmigheid bewe die aarde, en nasies kan sy verontwaardiging nie deurstaan nie.
11 So moet julle vir hulle sê: “Die gode wat nie die hemel en die aarde gemaak het nie, sal van die aarde af verdwyn, ja, onder hierdie hemel uit.”
12 Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gevestig het deur sy wysheid, en deur sy insig die hemel oopgespan het –
13 in sy stem, wanneer Hy dit laat hoor, is daar die gedruis van water in die hemel. Hy laat stapelwolke opstyg aan die einde van die aarde; Hy maak weerligstrale vir die reën; Hy laat die wind vry uit sy voorraadkamers.
14 Alle mense bewys hulleself dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd oor sy afgodsbeelde, want sy gietsels is bedrog – daar is nie asem in hulle nie.
15 Hulle is nikswerd afgode, bespotlike maaksels. In die tyd wanneer daar met hulle afgereken word, gaan hulle tot niet.
16 Die erfdeel van Jakob is nie soos hulle nie; want Hy is die Een wat alles vorm, en Israel is die stam van sy erfenis – die Here, Heerser oor alle magte, is sy Naam.
17 Tel jou bondel van die grond af op, Jerusalem, jy wat onder beleg woon!
18 Want so sê die Here: “Kyk, Ek slinger hierdie keer die inwoners van die land weg. Ek het hulle vasgekeer, sodat hulle gevind kan word.”
19 Wee my! Ek het ineengestort! Ongeneeslik is my wond! Ek is die een wat gedink het: Dit is nou eenmaal my lyding dié, en ek moet dit dra.
20 Maar my tent is verwoes, en al my toue is gebreek. My kinders het van my af weggegaan; hulle is nie meer daar nie. Daar is nie meer iemand oor wat my tent kan oopsprei nie, wat my tentdoeke regop kan kry nie.
21 Ja, die herders het gewys dat hulle dom is; hulle het die Here nie geraadpleeg nie. Daarom kon hulle nie slaag nie, en is hulle hele kudde uiteengejaag.
22 'n Gerug klink op! Kyk, dit kom! 'n Groot gedreun kom uit 'n land in die noorde om Juda se dorpe 'n woesteny te maak, 'n lêplek vir jakkalse.
23 Ek weet, Here, dat 'n mens nie oor sy lewenspad beskik nie, dat iemand nie, terwyl hy loop, sy eie voetstappe bepaal nie.
24 Straf my, Here, maar regverdig, nie in u toorn nie, sodat U my nie uitwis nie.
25 Stort u woede uit oor die nasies wat U nie ken nie, en oor geslagte wat u Naam nie aanroep nie; want hulle het Jakob verslind, hulle het hom verslind en vernietig – sy weiding het hulle verwoes.