1Die volk wat in duisternis ronddwaal, het 'n groot lig gesien; hulle wat in 'n stikdonker land woon – oor hulle het 'n lig geskyn.
2U het die nasie vermeerder, U het hulle vreugde groot gemaak. Hulle ervaar vreugde voor U, soos die vreugde in die oestyd, soos dié wat juig wanneer hulle buit verdeel.
3Want die las van hulle juk en die hout oor hulle skouers, die stok van hulle slawedrywer, het U verpletter soos op die dag van Midian.
4Ja, elke stewel wat stamp met 'n gedreun, en elke kledingstuk wat in bloed gerol is, is bestem vir verbranding, is kos vir die vuur.
5Want 'n kind is vir ons gebore, 'n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
6Vir die uitbreiding van heerskappy en vir vrede sonder einde, sal hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees, om dit te vestig en te ondersteun deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die ywer van die Here, Heerser oor alle magte, sal dit doen.
7My Heer het 'n woord gestuur teen Jakob, en dit het in Israel geval.
8Die hele volk het dit ervaar, Efraim en die inwoners van Samaria, wat hoogmoedig en vol selfvertroue sê:
9“Bakstene het geval, maar met gekapte klip sal ons herbou. Wildevyebome is afgekap, met sederbome sal ons dit vervang.”
10Die Here het die vyande van Resin se mag teen hom verhoog en sy vyande aangehits –
11Aram uit die ooste en die Filistyne uit die weste. Hulle het Israel gulsig verslind. Ondanks dit alles het sy toorn nie bedaar nie, en bly sy hand steeds uitgestrek.
12Maar die volk het nie teruggekeer na Hom wat hulle geslaan het nie, en die Here, Heerser oor alle magte, nie geraadpleeg nie.
13Die Here het van Israel kop en stert, palmtak en biesie, afgekap op een dag.
14Oudstes en gerespekteerdes, hulle is die kop, en profete wat leuens verkondig, hulle is die stert.
15Hulle wat hierdie volk moes lei, het misleiers geword, en hulle wat gelei moes word, het verward geraak.
16Daarom, oor hulle jong manne verheug my Heer Hom nie, en oor hulle vaderloses en weduwees ontferm Hy Hom nie. Hulle is immers almal van God vervreem, en is kwaaddoeners; elke mond verkondig dwaasheid. Ondanks dit alles het sy toorn nie bedaar nie, en bly sy hand steeds uitgestrek.
17Ja, goddeloosheid brand soos vuur, dit verteer doringstruike en onkruid; dit steek die struikgewas in die bos aan die brand, en dit dwarrel weg as rook wat opstyg.
18Deur die gramskap van die Here, Heerser oor alle magte, is die land in duisternis gehul. Die volk het soos kos vir die vuur geword; hulle het nie deernis met mekaar nie.
19Hulle verslind aan die regterkant, maar bly honger; hulle vreet aan die linkerkant, maar word nie versadig nie. Elkeen van hulle bly vreet aan die vleis van sy voorarm:
20Manasse aan Efraim en Efraim aan Manasse, en hulle is saam teen Juda. Ondanks dit alles het die Here se toorn nie bedaar nie, en bly sy hand steeds uitgestrek.