Bible

Upgrade

Your Church Presentations in Minutes

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 65

:
Afrikaans - AFR20
1 “Ek het My laat raadpleeg deur hulle wat nie na My gevra het nie; Ek het My laat vind deur hulle wat My nie gesoek het nie. Ek het gesê, ‘Hier is Ek! Hier is Ek!’ vir 'n nasie wat nie na my Naam genoem is nie.
2 Ek het my hande die hele dag uitgestrek na 'n koppige volk, hulle wat, agter hulle eie planne aan, 'n pad loop wat nie goed is nie,
3 'n volk wat My voortdurend in my gesig uittart, wat offerdiere slag in die tuine, dit verbrand op altare van baksteen,
4 wat in grafte sit, op geheime plekke oornag, wat die vleis van varke eet, met die sous van iets walgliks in hulle potte,
5 wat sê, ‘Bly waar jy is! Moenie naby my kom nie, want ek is te heilig vir jou.’ Sulke mense is rook in my neus, 'n vuur wat die hele dag smeul.
6 Kyk, voor My staan geskryf: Ek swyg nie, maar Ek vergeld. En Ek sal vergeld in hulle skote
7 julle sondeskuld saam met die sondeskuld van julle voorouers, die Here, “hulle wat offers verbrand het op die berge, en My op die heuwels beledig het, Ek sal hulle loon van vroeër in hulle skote aftel.”
8 So die Here: “Wanneer daar nog sap te vinde is in 'n druiwetros, sal iemand sê, ‘Moet dit nie vernietig nie, want daar is seën in.’ So sal Ek ook optree ter wille van my diensknegte, sodat alles nie vernietig word nie.
9 Ek sal uit Jakob 'n nageslag laat voortkom, en uit Juda dié wat my berge sal besit. My uitverkorenes sal dit in besit neem, en my diensknegte sal daar woon.
10 Saron sal as weiveld vir kleinvee dien, en die vallei van Agor as rusplek vir beeste, en vir my volk wat My geraadpleeg het.
11 Maar julle wat die Here verlaat het, wat my heilige berg vergeet het, wat 'n tafel dek vir Ghad, wat 'n kruik gemengde wyn skink vir “Meni”
12 Ek bestem julle vir die swaard. Julle sal almal kniel vir die slagting, omdat Ek geroep het, maar julle nie geantwoord het nie, omdat Ek gepraat het, maar julle nie geluister het nie. Julle het gedoen wat verkeerd is in my oë; en wat Ek nie aanvaar nie, het julle gekies.”
13 Daarom, so my Heer, die Here: “Kyk, my diensknegte sal eet, maar julle sal honger ly. Kyk, my diensknegte sal drink, maar julle sal dors ly. Kyk, my diensknegte sal hulle verheug, maar julle sal beskaamd staan.
14 Kyk, my diensknegte sal jubel met blye harte, maar julle sal om hulp roep met bedroefde harte; met 'n gebroke gees sal julle huil.
15 Julle sal julle naam agterlaat om deur my uitverkorenes in verwensings gebruik te word. Die Heer, die Here, sal jou doodmaak; maar aan sy diensknegte sal Hy 'n ander naam gee.
16 Wie vir homself seën afsmeek in die land, sal vir hom seën afsmeek van die ware God. En wie in die land 'n eed aflê, sal dit aflê by die ware God; want die benoudhede van vroeër is vergete, ja, vir my is dit verborge.
17 Ja, Ek gaan 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde skep. Aan die vroeëres sal nie meer gedink word nie; dit sal nie in mense se gedagtes opkom nie.
18 Maar wees bly en juig vir altyd oor wat Ek gaan skep. Ja, kyk, Ek gaan Jerusalem skep as iets om oor te juig, en haar volk tot 'n vreugde.
19 Ek sal oor Jerusalem juig en oor my volk bly wees. In haar sal die klank van gehuil nie weer gehoor word nie, ook nie die klank van 'n geroep om hulp nie.
20 Daar sal nie meer 'n suigeling wees van net enkele dae, of 'n bejaarde wat nie sy lewensdae voltooi nie. Want die jongste sal op honderd jaar sterf, en wie nie honderd jaar bereik nie, sal as 'n vervloekte beskou word.
21 Hulle sal huise bou en bewoon; hulle sal wingerde plant en die vrugte daarvan eet.
22 Hulle sal nie bou, sodat 'n ander dit bewoon nie, of plant, sodat 'n ander dit eet nie. Want soos die lewensdae van 'n boom, sal die lewensdae van my volk wees. Die arbeid van hulle hande sal my uitverkorenes self geniet.
23 Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie; hulle sal nie kinders verwek vir 'n verskriklike lot nie; want hulle sal 'n geslag geseëndes van die Here wees, en hulle nakomelinge saam met hulle.
24 Nog voordat hulle roep, sal Ek hulle antwoord; hulle sal nog besig wees om te praat, dan verhoor Ek hulle al.
25 'n Wolf en 'n lam sal saam wei, 'n leeu sal soos 'n bees hooi eet; maar 'n slang stof sal sy kos wees. Mense sal nie kwaad aanrig of hulle wangedra nie nêrens op my hele heilige berg nie, die Here.