Bible

Create

Inspiring Presentations Without Hassle

Try Risen Media.io Today!

Click Here

Isaiah 54

:
Afrikaans - AFR20
1 “Jubel, onvrugbare vrou, wat nie geboorte geskenk het nie! Breek uit in jubelkrete, roep uit van blydskap, jy wat nie geboortepyne gehad het nie! Want die kinders van die eensame vrou sal meer wees as die kinders van die getroude vrou,” het die Here gesê.
2 Maak die plek vir jou tent groter, en die tentdoeke van jou wonings laat dit oopgespan word; moet dit nie beperk nie! Maak jou tenttoue lank en jou tentpenne stewig!
3 Want na regs en na links sal jy uitbrei; jou nageslag sal nasies in besit neem, verwoeste dorpe sal hulle bewoon.
4 Moenie bang wees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; moenie verneder voel nie, want jy sal nie verleë wees nie. Ja, die skande van jou jeug sal jy vergeet, en aan die gespot oor jou weduweeskap sal jy nie weer dink nie.
5 Want Hy wat met jou trou, is jou Maker; die Here, Heerser oor alle magte is sy Naam. Hy wat jou loskoop, is die Heilige van Israel. God van die hele wêreld word Hy genoem.
6 Ja, as 'n verstote, sielsongelukkige vrou, het die Here jou geroep. “Die vrou van 'n mens se jeug, sal sy verwerp word?” vra jou God.
7 “Vir 'n kort oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferming sal Ek jou versamel.
8 In 'n opwelling van grimmigheid het Ek my gesig 'n oomblik lank vir jou verberg; maar in ewige troue liefde ontferm Ek My oor jou,” het jou losser, die Here, gesê.
9 “Soos in die dae van Noag is hierdie tyd vir My: Ek het 'n eed afgelê dat die water van Noag nie weer die aarde sal oorstroom nie. Net so het Ek 'n eed afgelê om nie weer toornig te wees op jou en jou te dreig nie.
10 Ja, die berge mag wyk en die heuwels wankel, maar my troue liefde sal nie van jou wyk nie, en my vredesverbond sal nie wankel nie, het jou ontfermer, die Here, gesê.
11 Magtelose, stormgeteisterde stad, wat nie getroos is nie kyk, Ek gaan jou bouklip in blink klei lê, jou fondament met •lasuurstene bou.
12 Ek sal jou borswerings van •chalcedoon maak, en jou poorte sal van •berilsteen wees. Jou hele grensmuur sal van kosbare edelstene wees.
13 Al jou kinders sal leerlinge van die Here wees, en groot sal die voorspoed van jou kinders wees.
14 Deur geregtigheid sal jy jouself stewig vestig. “Besef dat jy ver is van verdrukking ja, jy hoef nie te vrees nie; en ver van verskrikking ja, dit sal nie naby jou kom nie.
15 Kyk, as iemand jou wel aanval dit kom nie van My af nie. Wie ook al jou aanval, sal oor jou tot 'n val kom.
16 Kyk, Ek self het die smid geskep wat die gloeiende kole aanblaas en wapens lewer vir 'n bepaalde taak. Ek self het die verwoester geskep om verwoesting aan te rig.
17 Geen wapen wat teen jou gemaak word, sal suksesvol wees nie. Elke tong wat teen jou getuig in 'n regsgeding, sal jy skuldig verklaar. “Dit is die erfdeel van die Here se diensknegte; dit is hulle geregtigheid van my kant,” is die uitspraak van die Here.