Isaiah 52AFR20

1Word wakker! Word wakker! Beklee jou met jou krag, Sion! Trek jou pragtige klere aan, Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal onbesnedenes en onreines nie langer kom nie.

2Skud die stof van jou af! Staan op, gaan sit op jou troon, Jerusalem! Maak jou los van die bande om jou nek, krygsgevangene, dogter van Sion!

3Ja, so sê die Here: “Vir niks is julle verkoop, sonder geld sal julle losgekoop word.”

4Ja, so sê my Heer, die Here: “Na Egipte het my volk aan die begin afgetrek om as •vreemdelinge daar te woon. Assirië het hulle sonder rede verdruk.

5Maar nou, wat vind Ek hier?” is die uitspraak van die Here. “Want my volk is sonder rede weggeneem, sy heersers huil,” is die uitspraak van die Here, “en my Naam word voortdurend, daglank, verguis.

6Daarom sal my volk my Naam ken. Daarom, op daardie dag, sal hulle weet dat Ek die Een is wat sê, ‘Hier is Ek!’ ”

7Hoe lieflik op die berge is die voete van 'n boodskapper van vreugde, een wat vrede verkondig, wat 'n goeie boodskap bring, wat verlossing verkondig, wat vir Sion sê: “Jou God heers as koning!”

8Luister na jou wagte, hulle roep uit, saam jubel hulle; want reg voor hulle oë aanskou hulle die terugkeer van die Here na Sion.

9Breek saam uit in gejubel, puinhope van Jerusalem! Want die Here troos sy volk, Hy koop Jerusalem los.

10Die Here ontbloot sy heilige arm voor die oë van al die nasies. Al die uithoeke van die aarde ervaar die verlossing deur ons God.

11Wyk uit! Wyk uit! Trek weg van daar af! Aan iets onreins moet julle nie raak nie. Trek weg uit haar midde! Hou julle rein, draers van die Here se tempelgereedskap!

12Julle mag egter nie oorhaastig wegtrek nie, nie op die vlug slaan nie; want die Here gaan voor julle uit; die God van Israel vorm julle agterhoede.

13“ Kyk, my dienskneg sal suksesvol wees, hy sal uitstyg, uittroon, en baie verhewe wees.

14Soos baie ontsteld was oor hom – so onmenslik misvormd was sy voorkoms, sy gestalte nie meer dié van 'n mens nie –

15net so sal hy baie nasies verbyster; konings sal oor hom swyg. Ja, hulle aan wie niks vertel is nie, sien; en wie nie gehoor het nie, begryp. ”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 52.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.