Bible

Connect

With Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 50

:
Afrikaans - AFR20
1 So die Here: “Waar is julle moeder se skeibrief dan nou waarmee Ek haar weggestuur het? Of wie van my skuldeisers is daar aan wie Ek julle verkoop het? Kyk, oor julle sondeskuld is julle verkoop, en oor julle oortredings is julle moeder weggestuur.
2 Waarom het Ek gekom, en daar was niemand nie, het Ek geroep, en niemand het geantwoord nie? Was my hand werklik te kort om te red? Of was daar geen krag in My om uit te red nie? Kyk, deur my dreigende woord laat Ek die see opdroog Ek maak van riviere 'n woestyn. Die visse daarvan stink weens 'n gebrek aan water hulle sterf van dors.
3 “Ek beklee die hemelruim met donkerte; Ek bedek dit met 'n roukleed.
4 Dit is my Heer, die Here, wat aan my 'n vaardige tong gegee het, sodat ek kan weet hoe om vermoeides met 'n boodskap op te beur. Elke oggend maak Hy my wakker; Hy wek my oor om soos 'n leerling te luister.
5 My Heer, die Here, het my ore oopgemaak, en ek, ja, ek was nie opstandig nie; teruggedeins het ek nie.
6 My rug het ek gehou vir hulle wat slaan, en my wange vir hulle wat baard uitpluk. My gesig het Ek nie verberg vir beledigings en spuug nie.
7 Dit is my Heer, die Here, wat my te hulp kom; daarom voel ek nie verneder nie; daarom het ek my gesig soos vuurklip gemaak. Ek het geweet dat ek nie beskaamd sou staan nie.
8 Hy wat my reg handhaaf, is naby. Wie sal teen my 'n regstryd voer? Laat ons saam plek inneem! Wie is die teenstander in my saak? Laat hy nader kom!
9 Kyk, my Heer, die Here, kom my te hulp. Wie is dit wat my skuldig sal verklaar? Kyk, hulle sal almal soos 'n kleed verslyt, motte sal hulle wegvreet.
10 Wie is daar onder julle wat ontsag het vir die Here, wat luister na die stem van sy dienskneg? Hy wat in duisternis verkeer, wat geen lig het nie, moet op die Naam van die Here vertrou, moet op sy God steun.
11 Kyk, julle almal wat vure aansteek, wat julle met brandpyle bewapen, loop dan in die gloed van julle vuur, ja, tussen die brandpyle wat julle aangesteek het! Deur my hand het dit met julle gebeur; in 'n plek van pyniging sal julle lê.