Isaiah 42
1 “ Kyk, hier is my dienskneg wat Ek ondersteun, my uitverkorene in wie my binneste vreugde vind. Ek het my Gees op hom laat kom; hy sal reg vir die nasies laat deurbreek.
2 Hy sal nie om hulp roep en nie uitroep nie. Hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie.
3 'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, 'n dowwe lamppit sal hy nie uitdoof nie; in getrouheid sal hy reg laat deurbreek.
4 Hy sal nie weifel en nie geknak word nie, totdat hy reg op die aarde gevestig het; op sy lering wag die eilande. ”
5 So sê die ware God, die Here, wat die hemel geskep en oopgespan het, wat die aarde uitgebrei het, en dit wat daaruit voortkom, wat asem gee aan die mense daarop, lewensasem aan wie daarop beweeg:
6 “ Ek, die Here, het jou geroep met die oog op geregtigheid; Ek sal jou hand vasgryp, jou bewaar en jou bestem tot 'n verbond vir die volk, tot 'n lig vir die nasies –
7 om blinde oë oop te maak, om gevangenes uit die kerker te lei, om hulle wat in donkerte sit, uit die tronk te lei.
8 Ek is die Here, dit is my Naam. My heerlikheid sal Ek nie afstaan aan 'n ander nie, my roem nie aan gesnede beelde nie.
9 Die dinge van vroeër – kyk, dit het gebeur; en die nuwe dinge – Ek kondig dit aan, voordat dit uitspruit, laat Ek julle daarvan hoor.”
10 Sing vir die Here 'n nuwe lied, besing sy roem van die einde van die aarde af, julle wat die see bevaar, en alles wat in die see is, ook die eilande en hulle bewoners.
11 Laat die woestyn en sy dorpe hulle stem verhef, die gehuggies waar Kedar woon. Laat die inwoners van Sela jubel, hardop roep van die bergkruine af.
12 Laat hulle aan die Here eer gee, sy roem op die eilande bekend maak.
13 Die Here, soos 'n held trek Hy uit, soos 'n krygsman wakker Hy die krygslus aan. Hy roep die strydkreet, ja, Hy skreeu die oorlogskreet uit; aan sy vyande betoon Hy Homself as die magtige.
14 “Ek het lank stilgebly, My stil gehou, My bedwing. Soos 'n vrou wat geboorte gee, kreun Ek; Ek hyg en snak tegelyk na asem.
15 Ek lê berge en heuwels droog, al die plantegroei daarop laat Ek verdor. Ek laat eilande in riviere ontstaan; Ek laat vleilande opdroog.
16 Ek laat blindes gaan op 'n weg wat hulle nie ken nie; op paaie wat hulle nie ken nie, laat Ek hulle loop. Ek maak die duisternis voor hulle lig, die ongelyk plekke maak Ek gelyk. Dit is die beloftes – Ek voer dit uit, Ek laat dit nie na nie.
17 Hulle sal terugdeins, en hulle sal grootliks beskaamd staan – dié wat op afgodsbeelde vertrou, wat vir gegote beelde sê, ‘Julle is ons gode!’
18 “ Dowes, luister! Blindes, kyk, sodat julle kan sien!
19 Wie is blind, behalwe my dienskneg, en doof, soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die een wat vergelding ontvang het, en blind soos die dienskneg van die Here?
20 Jy het baie dinge gesien, maar nie daaraan aandag gegee nie. Die ore is oop, maar hy luister nie.”
21 Ter wille van sy geregtigheid, het die Here behae daarin om sy wet as groot en glorieryk te laat geld.
22 Maar dié is 'n geplunderde en beroofde volk. Hulle is almal vasgekeer in gate, en in tronke word hulle weggesteek. Hulle het buit geword, en daar is niemand wat kan red nie; hulle is 'n beroofde volk, en niemand sê, “Gee terug!” nie.
23 Wie onder julle gee hieraan aandag, slaan daarop ag en hoor dit met die oog op die toekoms?
24 Wie het Jakob as buit oorgegee, en Israel aan die plunderaars? Is dit nie die Here nie, Hy teen wie ons gesondig het? Hulle wou nie op sy paaie loop nie, en het nie na sy wet geluister nie.
25 Hy het sy brandende toorn en die geweld van oorlog oor hulle uitgestort. Dit het hulle aan alle kante geskroei, maar hulle het dit nie besef nie. Dit het hulle gebrand, maar hulle het dit nie ter harte geneem nie.