Isaiah 40
1 “Troos, troos my volk!” sê julle God.
2 “Praat mooi met Jerusalem! Roep haar toe dat haar gedwonge arbeid voltooi is, dat haar skuld afbetaal is! Ja, sy het uit die hand van die Here 'n dubbele straf ontvang vir al haar sondes. ”
3 'n Stem roep: “Maak in die woestyn die pad van die Here gereed; maak in die Araba 'n grootpad vir ons God gelyk.
4 Elke dal moet opgevul word, en elke berg en heuwel moet wegsak. Hobbelrige plekke moet gelyke grond word, en rotsagtige terrein moet 'n vallei word.
5 Die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word; alle mense sal dit gelyktydig sien, want die mond van die Here het gespreek.”
6 'n Stem sê toe: “Roep uit!” En ek vra: “Wat moet ek uitroep? Alle mense is immers gras; en al hulle trou is soos 'n veldblom.
7 Gras verdor, 'n blom verwelk wanneer die asem van die Here daarop blaas. Waarlik, die volk is maar net gras!”
8 “ Ja, gras verdor, 'n blom verwelk, maar die woord van ons God hou stand vir altyd. ”
9 Klim op 'n hoë berg, Sion, boodskapper van vreugde! Verhef jou stem met krag, Jerusalem, boodskapper van vreugde! Verhef dit, moenie bang wees nie! Sê vir die dorpe van Juda: “Hier is julle God!”
10 Kyk, my Heer, die Here – met krag kom Hy, en sy arm oefen vir Hom heerskappy uit. Kyk, sy vergoeding is by Hom, sy beloning is voor Hom.
11 Soos 'n herder laat Hy sy kudde wei; in sy arms maak Hy lammers bymekaar; teen sy bors dra Hy hulle; die lammerooie lei Hy.
12 Wie kan die waters in die holte van sy hand afmeet, die hemel met sy handspan peil, met 'n derde van 'n efa die stof van die aarde opvang, met 'n handskaal die berge weeg, die heuwels met 'n weegskaal?
13 Wie kan die Gees van die Here peil, wie is die mens wat aan Hom sy raadsbesluit bekend maak?
14 Met wie beraadslaag Hy, en wie hou Hom op hoogte, wie onderrig Hom oor die verloop van 'n regsaak? Wie dra aan Hom kennis oor, en die pad van wyse beskikking, wie maak dit aan Hom bekend?
15 Kyk, nasies is soos 'n druppel uit 'n leersak; hulle word beskou as net 'n lagie stof op 'n weegskaal. Kyk, eilande weeg Hy asof dit fyn stof is.
16 Die Libanonbos se hout is nie genoeg om 'n vuur te maak, en sy wilde diere nie genoeg vir 'n •brandoffer nie.
17 Al die nasies is soos niks voor Hom; deur Hom word hulle beskou as minder as iets niksseggends, minder as 'n nietigheid.
18 Met wie wil julle God vergelyk? Watter afbeelding wil julle langs Hom stel?
19 'n Afgodsbeeld wat 'n vakman gegiet het, wat 'n smid met goud oorgetrek het, 'n smid met silwer beslaan het?
20 As 'n wydingsgeskenk kies mens ebbehout, hout wat nie verrot nie. 'n Vaardige vakman soek hy vir hom om 'n afgodsbeeld te maak wat nie omkantel nie.
21 Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie? Het julle nie begrip van die aarde se fondamente nie?
22 Dit is Hy wat troon bo die ronde skyf van die aarde; die bewoners daarvan is soos koringkrieke. Dit is Hy wat die hemel oopspan soos 'n doek, dit oopsprei soos 'n tent, sodat mense daar kan woon.
23 Dit is Hy wat maghebbers tot niks maak; die regeerders van die aarde maak Hy 'n nietigheid.
24 Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars skiet hulle steggies wortel in die grond, of Hy het reeds op hulle geblaas, en hulle verdor; dan lig 'n stormwind hulle op soos strooi.
25 “Met wie wil julle My vergelyk, sodat Ek net soos hulle sal wees?” vra die Heilige.
26 Kyk boontoe en sien! Wie het hierdie dinge geskep? Dit is Hy wat die hemelse leër een vir een uitlei, hulle almal op die naam roep. Deur die toedoen van Hom wat groot vermoëns en geweldige krag het, ontbreek nie een nie.
27 Waarom sê jy dan, Jakob, en beweer jy, Israel: “My lewenspad is verborge vir die Here, my reg gaan by my God verby”?
28 Weet jy dit nie? Het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie – ondeurgrondelik is sy insig.
29 Dit is Hy wat vermoeides krag gee, wat lewenskrag vermeerder vir dié wat geen vermoëns het nie.
30 Jong seuns word moeg en raak afgemat; jong manne struikel en val.
31 Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.