Isaiah 32AFR20

1Kyk, met regverdigheid sal 'n koning regeer, en in geregtigheid sal •hoë amptenare heers.

2Elkeen van hulle sal daar wees, as 'n skuiling teen die wind, 'n beskutting teen stortbuie, as waterstrome in 'n dor streek, as die skadu van 'n swaar rots in 'n vermoeide land.

3Die oë van hulle wat sien, sal nie meer wegkyk nie, en die ore van hulle wat hoor, sal aandagtig luister.

4Die harte van oorhaastiges sal op kennis ag slaan, en die tonge van stamelaars sal vinnig en duidelik praat.

5'n Sot sal nie meer “edel” genoem word nie, en 'n skurk sal nie as “hoogheid” aangespreek word nie.

6Want 'n sot raak sothede kwyt, en sy hart hou hom besig met onreg: deur goddeloosheid te bedryf, deur onwaarhede oor die Here kwyt te raak, deur die kele van hongeriges leeg te laat en deur iets te drinke te weerhou van wie dors is.

7En 'n skurk – sy werktuie is sleg; hy is die een wat skanddade beplan om magteloses deur bedrieglike woorde uit te roei, ook wanneer 'n behoeftige 'n eis voorlê.

8Die edele beraam egter edel planne, hy is die een wat staan by wat edel is.

9Sorgelose vroue, staan op, luister na my stem! Dogters vol vertroue, hoor my woorde!

10Oor net meer as 'n jaar sal julle sidder, julle wat houtgerus is; want die druiweoes is verby, daar kom nie meer 'n insameling nie.

11Raak aan die bewe, sorgelose vroue! Sidder, julle wat houtgerus is! Trek julle uit, ontklee! Gord rouklere aan julle heupe!

12Slaan julleself op die bors oor die pragtige landerye, oor die vrugbare wingerde,

13oor die grond van my volk. Doringstruike sal daar opkom, ja, waar al die huise vol vreugde, die uitbundige dorp, was.

14Ja, die vesting lê verwaarloos; die rumoer van die stad is verby. Die Ofel en wagtorings word kaal veld vir altyd – 'n vreugde vir wildedonkies; 'n weiveld vir veekuddes;

15totdat 'n gees van bo af uitgestort word oor ons, totdat 'n woesteny 'n vrugteboord word, en 'n vrugteboord as 'n bos beskou word.

16Dan sal die reg in die woesteny tuis wees, en geregtigheid sal in die vrugteboord woon.

17Die uitwerking van geregtigheid sal vrede wees, die uitkoms van geregtigheid kalmte en vertroue vir altyd.

18My volk sal in 'n tuiste van vrede woon, in veilige woonplekke, in ongestoorde rusplekke.

19Dit sal hael wanneer die bos platgeslaan word, wanneer die stad in vernedering neersink.

20Gelukkig is julle wat langs al die water saai, julle wat beeste en donkies vrye loop gee.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 32.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.