Bible

Focus

On Your Ministry and Not Your Media

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 1

:
Afrikaans - AFR20
1 Die visioen van Jesaja, seun van Amos, wat hy gesien het aangaande Juda en Jerusalem in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda.
2 Luister, hemel, en gee aandag, aarde, want die Here praat: “Kinders het Ek grootgemaak en opgevoed, maar hulle het teen My in verset gekom.
3 'n Bees ken sy eienaar en 'n donkie die krip van sy besitter. Israel het egter nie kennis nie, my volk toon geen insig nie.”
4 Wee 'n sondige nasie, 'n volk swaar belaai met sondeskuld, 'n geslag kwaaddoeners, kinders wat hulle wangedra! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, Hom die rug toegekeer.
5 Waarom wil julle nog geslaan word, en hou julle vol met julle onversetlikheid? Elke kop is siek, elke hart is swak.
6 Van die voetsool tot die kop is daar nie 'n gesonde plek nie, net hale en kneusplekke en oop wonde. Dit is nie gedreineer nie, of verbind of versorg met olie nie.
7 Julle land is 'n woesteny; julle stede is met vuur verbrand. Julle landerye voor julle verteer vreemdes dit; ja, dit is 'n woesteny, asof vreemdes dit verwoes het.
8 Die dogter van Sion het oorgebly soos 'n takskerm in 'n wingerd, soos 'n oornagskerm in 'n lappie komkommers, soos 'n beleërde stad.
9 As die Here, Heerser oor alle magte, nie vir ons 'n klein oorblyfsel agtergelaat het nie soos Sodom sou ons geword het, aan Gomorra sou ons gelyk gewees het.
10 Luister na die woord van die Here, •gesagvoerders van Sodom! Gee aandag aan die wet van ons God, mense van Gomorra!
11 “Wat baat julle magdom slagoffers My?” vra die Here. “Ek het genoeg gehad van die •brandoffers van ramme en die vet van gevoerde diere. Die bloed van bulle, lammers en bokramme staan My nie aan nie.
12 Wanneer julle kom om voor My te verskyn wie eis dit van julle om my voorhowe te vertrap?
13 Hou op om waardelose •graanoffers aan te dra! Reukwerk afstootlik is dit vir My. Nuwemaansfeeste en Sabbatte, die saamroep van byeenkomste Ek kan nie onreg én gewyde rusdae verdra nie.
14 Julle nuwemane en vaste feestye haat Ek met my hele wese; dit is vir My 'n las, Ek is moeg daarvoor om dit te dra.
15 As julle julle hande uitstrek, sluit Ek my vir julle. Selfs as julle baie bid, luister Ek nie. Julle hande is vol bloed.
16 Was julle! Reinig julle! Verwyder julle bose dade voor my oë! Hou op om kwaad te doen!
17 Leer om goed te doen! Bevorder die reg! die onderdrukker aan bande! Handhaaf die reg van die vaderloses! Verdedig die weduwees se regsake!
18 “Kom tog, laat ons die saak uitpraat!” die Here. “Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word.
19 As julle gewillig is en luister die goeie van die land sal julle geniet.
20 Maar as julle weier en opstandig is deur die swaard sal julle verteer word.” Ja, die mond van die Here het gespreek.
21 Helaas, sy het 'n prostituut geword, die getroue stad! Sy was gevul met die reg; geregtigheid het in haar oornag, maar nou net moordenaars.
22 Jou silwer het metaalskuim geword, jou koringbier is met water verdun.
23 Jou •hoë amptenare is koppig en span met diewe saam. Hulle almal is lief vir omkoopgeld en jaag belonings na. Vaderloses se reg handhaaf hulle nie, en weduwees se regsake dien nie voor hulle nie.
24 Daarom is dit die uitspraak van die Here, die Heer, Heerser oor alle magte, die Magtige van Israel: “Wee hulle! Ek gaan voldoening ervaar oor my teenstanders; Ek gaan My wreek op my vyande.
25 Ek sal my hand teen jou draai, jou metaalskuim uitsmelt soos met potas, al jou onsuiwerhede verwyder.
26 Ek sal jou regters tot inkeer bring soos dit voorheen was, en ook jou raadgewers soos dit aan die begin was. Daarna sal jy genoem word: Stad van Geregtigheid, Getroue Vesting.”
27 Sion sal net deur reg vrygekoop word, en dié van haar wat terugkeer, deur geregtigheid.
28 Sowel oortreders as sondaars sal verpletter word; wie die Here verlaat, sal omkom.
29 Ja, hulle sal beskaamd staan oor die terebintbome wat julle so begeer. Julle sal verleë wees oor die tuine waaroor julle so gaande is.
30 Ja, julle sal wees soos 'n terebintboom waarvan die blare verwelk, soos 'n tuin wat geen water kry nie.
31 Die sterke sal vlasvesel word, en sy dade 'n vonk. Beide sal saam verbrand, terwyl niemand dit kan blus nie.