Isaiah 1AFR20

1Die visioen van Jesaja, seun van Amos, wat hy gesien het aangaande Juda en Jerusalem in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda.

2Luister, hemel, en gee aandag, aarde, want die Here praat: “Kinders het Ek grootgemaak en opgevoed, maar hulle het teen My in verset gekom.

3'n Bees ken sy eienaar en 'n donkie die krip van sy besitter. Israel het egter nie kennis nie, my volk toon geen insig nie.”

4Wee 'n sondige nasie, 'n volk swaar belaai met sondeskuld, 'n geslag kwaaddoeners, kinders wat hulle wangedra! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, Hom die rug toegekeer.

5Waarom wil julle nog geslaan word, en hou julle vol met julle onversetlikheid? Elke kop is siek, elke hart is swak.

6Van die voetsool tot die kop is daar nie 'n gesonde plek nie, net hale en kneusplekke en oop wonde. Dit is nie gedreineer nie, of verbind of versorg met olie nie.

7Julle land is 'n woesteny; julle stede is met vuur verbrand. Julle landerye – voor julle oë verteer vreemdes dit; ja, dit is 'n woesteny, asof vreemdes dit verwoes het.

8Die dogter van Sion het oorgebly soos 'n takskerm in 'n wingerd, soos 'n oornagskerm in 'n lappie komkommers, soos 'n beleërde stad.

9As die Here, Heerser oor alle magte, nie vir ons 'n klein oorblyfsel agtergelaat het nie – soos Sodom sou ons geword het, aan Gomorra sou ons gelyk gewees het.

10Luister na die woord van die Here, •gesagvoerders van Sodom! Gee aandag aan die wet van ons God, mense van Gomorra!

11“Wat baat julle magdom slagoffers My?” vra die Here. “Ek het genoeg gehad van die •brandoffers van ramme en die vet van gevoerde diere. Die bloed van bulle, lammers en bokramme staan My nie aan nie.

12Wanneer julle kom om voor My te verskyn – wie eis dit van julle om my voorhowe te vertrap?

13Hou op om waardelose •graanoffers aan te dra! Reukwerk – afstootlik is dit vir My. Nuwemaansfeeste en Sabbatte, die saamroep van byeenkomste – Ek kan nie onreg én gewyde rusdae verdra nie.

14Julle nuwemane en vaste feestye haat Ek met my hele wese; dit is vir My 'n las, Ek is moeg daarvoor om dit te dra.

15As julle julle hande uitstrek, sluit Ek my oë vir julle. Selfs as julle baie bid, luister Ek nie. Julle hande is vol bloed.

16Was julle! Reinig julle! Verwyder julle bose dade voor my oë! Hou op om kwaad te doen!

17Leer om goed te doen! Bevorder die reg! Lê die onderdrukker aan bande! Handhaaf die reg van die vaderloses! Verdedig die weduwees se regsake!

18“Kom tog, laat ons die saak uitpraat!” sê die Here. “Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word.

19As julle gewillig is en luister – die goeie van die land sal julle geniet.

20Maar as julle weier en opstandig is – deur die swaard sal julle verteer word.” Ja, die mond van die Here het gespreek.

21Helaas, sy het 'n prostituut geword, die getroue stad! Sy was gevul met die reg; geregtigheid het in haar oornag, maar nou net moordenaars.

22Jou silwer het metaalskuim geword, jou koringbier is met water verdun.

23Jou •hoë amptenare is koppig en span met diewe saam. Hulle almal is lief vir omkoopgeld en jaag belonings na. Vaderloses se reg handhaaf hulle nie, en weduwees se regsake dien nie voor hulle nie.

24Daarom is dit die uitspraak van die Here, die Heer, Heerser oor alle magte, die Magtige van Israel: “Wee hulle! Ek gaan voldoening ervaar oor my teenstanders; Ek gaan My wreek op my vyande.

25Ek sal my hand teen jou draai, jou metaalskuim uitsmelt soos met potas, al jou onsuiwerhede verwyder.

26Ek sal jou regters tot inkeer bring soos dit voorheen was, en ook jou raadgewers soos dit aan die begin was. Daarna sal jy genoem word: Stad van Geregtigheid, Getroue Vesting.”

27Sion sal net deur reg vrygekoop word, en dié van haar wat terugkeer, deur geregtigheid.

28Sowel oortreders as sondaars sal verpletter word; wie die Here verlaat, sal omkom.

29Ja, hulle sal beskaamd staan oor die terebintbome wat julle so begeer. Julle sal verleë wees oor die tuine waaroor julle so gaande is.

30Ja, julle sal wees soos 'n terebintboom waarvan die blare verwelk, soos 'n tuin wat geen water kry nie.

31Die sterke sal vlasvesel word, en sy dade 'n vonk. Beide sal saam verbrand, terwyl niemand dit kan blus nie.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 1.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.