Hebrews 13
1 Die broederliefde moet bly!
2 Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang.
3 Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, aan hulle wat mishandel word asof julle dit self aan julle liggaam beleef.
4 Die huwelik moet in alle opsigte eerbaar gehou word, en die huweliksbed moet onbesoedeld wees, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.
5 Julle leefwyse moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, “Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie”,
6 sodat ons met vertroue kan sê: “Die Here is vir my 'n helper – ek sal nie bang wees nie. Wat sal 'n mens aan my doen?”
7 Hou altyd julle leiers in gedagte, dié wat die woord van God aan julle verkondig het; gee ag op die uiteinde van hulle lewensloop, en neem hulle geloof as voorbeeld.
8 Jesus •Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid.
9 Moenie meegevoer raak deur allerhande vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike wat dié wat daarvolgens lewe, niks baat nie.
10 Ons het 'n offeraltaar waarvan dié wat in die •tabernakel diens verrig, nie mag eet nie.
11 Want die karkasse van die diere waarvan die bloed ter wille van die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word, word buite die laer verbrand.
12 Daarom het ook Jesus so buite die stadspoort gely, sodat Hy die volk deur sy eie bloed kon heilig.
13 Laat ons dus uitgaan na Hom buite die laer, en sy smaad verduur.
14 Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons is op soek na die toekomstige stad.
15 Laat ons dan deur Hom voortdurend 'n lofoffer aan God bring – dit is die vrug van lippe wat sy Naam saam bely.
16 En moenie versuim om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want God het behae in sodanige offers.
17 Wees gehoorsaam en onderdanig aan julle leiers, want hulle waak oor julle siele, as diegene wat rekenskap sal moet gee – sodat hulle dit met vreugde kan doen, en nie al sugtend nie, want dit sal vir julle nie goed wees nie.
18 Bid vir ons, want ons is oortuig dat ons 'n goeie gewete het, omdat ons in alles daarna streef om eerbaar te leef.
19 Veral pleit ek dat julle dit sal doen, sodat ek binnekort na julle teruggebring sal word.
20 En mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, ons Here Jesus, uit die dood uitgelei het deur die bloed van die ewige verbond,
21 julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen, terwyl Hy in ons dit doen wat voor Hom welbehaaglik is, deur Jesus •Christus, aan wie die heerlikheid behoort, vir ewig en ewig! •Amen!
22 Ek pleit by julle, broers, aanvaar hierdie boodskap van aansporing, want ek het maar kortliks vir julle geskryf.
23 Julle moet weet dat ons broer Timoteus reeds vertrek het. As hy binnekort kom, sal ek julle saam met hom sien.
24 Groet al julle leiers en al die •heiliges. Dié wat van Italië is, groet julle.
25 Die genade bly met julle almal!