Genesis 14
1 Dit gebeur toe in die dae van Amrafel, koning van Sinar, Arjog, koning van Ellasar, Kedorlaomer, koning van Elam, en Tidal, koning van Gojim,
2 dat hulle oorlog voer teen Bera, koning van Sodom, Birsa, koning van Gomorra, Sinab, koning van Adma, Semeber, koning van Sebojim, en teen die koning van Bela – dit is Soar.
3 Hulle het almal saam 'n bondgenootskap gevorm in die Siddimvallei, dit is by die Soutsee.
4 Twaalf jaar lank het hulle Kedorlaomer gedien, maar in die dertiende jaar het hulle in opstand gekom.
5 In die veertiende jaar het Kedorlaomer en die konings wat saam met hom was, toe gekom en die Refaïete verslaan in Asterot-Karnajim, die Susiete in Ham, die Emiete in Sawe-Kirjatajim,
6 en die Horiete in die berge van Seïr tot by El-Paran, wat aan die woestyn grens.
7 Hulle het toe teruggedraai en by En-Mispat – dit is •Kades – gekom en die hele gebied van die Amalekiete verower, en selfs die •Amoriete wat in Gaseson-Tamar woon.
8 Die koning van Sodom, die koning van Gomorra, die koning van Adma, die koning van Sebojim en die koning van Bela – dit is Soar – het uitgetrek en gevegslinies in die Siddimvallei opgestel teen hulle,
9 teen Kedorlaomer, die koning van Elam, teen Tidal, die koning van Gojim, teen Amrafel, die koning van Sinar en teen Arjog, die koning van Ellasar – vier konings teen vyf.
10 In die Siddimvallei was daar asfaltput op asfaltput. Die konings van Sodom en Gomorra het gevlug en daarin geval. Dié wat oorgebly het, het die berge in gevlug.
11 Die oorwinnaars het al die besittings van Sodom en Gomorra en al hulle kos gevat en weggegaan.
12 Hulle het Lot, die broerskind van Abram, en sy besittings gevat en weggegaan. Hy het toe in Sodom gewoon.
13 Iemand wat ontkom het, het dit vir Abram, die Hebreër, vertel. Hy het gewoon by die akkerbome van die Amoriet, Mamre, die broer van Eskol en Aner. Hulle was bondgenote van Abram.
14 Toe Abram hoor dat sy broer weggevoer is, het hy sy onderhoriges, hulle wat in sy huis gebore is, bewapen, driehonderd-en-agttien man, en die agtervolging volgehou tot by Dan.
15 In die nag het hy en sy dienaars in verskillende groepe teen die konings verdeel en hulle aangeval. Hy het hulle agtervolg tot by Hoba, wat noord van Damaskus is.
16 Hy het al die besittings teruggebring. Ook Lot, sy broer, het hy saam met sy besittings teruggebring, sowel as die vroue en die manskappe.
17 Ná sy terugkeer, toe hy Kedorlaomer en die konings by hom verslaan het, het die koning van Sodom uitgetrek om hom te ontmoet in die Sawevallei – dit is die vallei van die konings.
18 Melgisedek, die koning van Salem, het brood en wyn gebring. Hy was 'n priester van God, die Allerhoogste.
19 Hy het Abram geseën en gesê: “Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, skepper van die hemel en die aarde.
20 God, die Allerhoogste, moet geprys word, Hy wat jou teenstanders in jou hand oorgelewer het.” Abram het toe vir hom 'n tiende van alles gegee.
21 Die koning van Sodom het vir Abram gesê: “Gee vir my die mense; die besittings kan jy vir jouself vat.”
22 Maar Abram het vir die koning van Sodom gesê: “Ek hef my hand op na die Here God, die Allerhoogste, skepper van die hemel en die aarde:
23 Nie die riempie of die bandjie van 'n sandaal sal ek vat van enigiets wat aan jou behoort nie, sodat jy nie kan sê, ‘Ek is die een wat Abram ryk gemaak het’ nie.
24 Sluit my uit! Net wat die jong manne geëet het, en die deel van die manne wat saam met my gegaan het – Aner, Eskol en Mamre – laat hulle dan hulle deel kry.”