Ezekiel 7AFR20

1Die woord van die Here het tot my gekom:

2“En jy, mensekind, so sê die Heer, die Here, vir die land Israel, ‘Einde! Die einde het gekom oor die vier hoeke van die land.

3Die einde is nou hier vir jou. Ek het my toorn teen jou losgelaat; Ek vonnis jou volgens jou optrede; Ek vergeld jou vir al jou afstootlike dade.

4Ek sal nie 'n traan stort oor jou nie. Ek sal nie deernis hê nie, maar jou vir jou optrede vergeld. Jou afstootlike dade sal hulle in jou midde laat geld. Julle sal besef dat Ek die Here is.

5“ So sê die Heer, die Here, ‘Onheil, ongekende onheil, kyk, dit kom!

6'n Einde het gekom; die einde het gekom! Hy het dit teen jou aangevuur; kyk, onheil is aan die kom!

7Ondergang kom na jou, bewoner van die land. Die tyd het gekom; naby is die dag! Daar is paniek, geen gejuig nie, op die berge.

8“ ‘Nou, binnekort, sal Ek oor jou, land van Israel, my woede uitstort; Ek sal my toorn op jou laat uitwoed. Ek sal jou vonnis volgens jou optrede, jou vergeld vir al jou afstootlike dade.

9Ek sal nie 'n traan stort nie, Ek sal nie deernis hê nie. Volgens jou optrede vergeld ek jou; jou afstootlike dade sal hulle in jou midde laat geld. Julle sal besef dat dit Ek, die Here, is wat toeslaan.

10“ ‘ Kyk, die dag! Kyk, dit het aangebreek! Die ondergang spruit uit; die tugroede blom; die verwaandheid dra vrug.

11Die geweld het opgestaan as 'n tugroede vir goddeloosheid. Niks van hulle bly oor nie – niks van hulle rykdom, niks van hulle prag en praal, niks voortrefliks onder hulle nie.

12Die tyd het aangebreek, die dag is naby. Die koper moet nie bly wees nie, en die verkoper moet nie treur nie, want 'n toorngloed kom oor alle rykdom van die land.

13Ja, die verkoper sal nie terugkeer na dit wat hy verkoop het nie, al leef hulle al twee nog; want die openbaring geld vir al die rykdom van die land; dit sal nie herroep word nie. “ ‘Weens sy sondeskuld sal niemand die lewe kan behou nie.

14Hulle blaas op die •ramshoring, maak alles gereed, maar niemand gaan oorlog toe nie; want my toorngloed is gerig teen Jerusalem se hele menigte.

15Die swaard is daar buite, 'n epidemie en hongersnood daar binne. Wie in die veld is, sal deur die swaard sterf; wie in die stad is – hongersnood en die epidemie verteer hom.

16Dié van hulle wat ontkom, sal in die berge wees soos duiwe van die valleie – hulle almal kla, elkeen oor sy sondeskuld.

17Alle hande word slap, en alle knieë word water.

18Hulle sal rouklere ombind, en ontsetting sal hulle bedek. Elke gesig is vol skaamte, en al hulle koppe kaalgeskeer.

19Hulle silwer sal hulle in die strate weggooi, hulle goud sal as •onrein afval beskou word. Hulle silwer en goud – dit kan hulle nie red op die dag van die Here se gramskap nie. Hulle eetlus sal hulle daarmee nie kan stil nie, hulle ingewande nie kan vul nie. Want dit was die struikelblok wat hulle sondeskuld meegebring het;

20met die pragtige juwele van goud en silwer het hulle 'n voorwerp van trots opgerig; hulle afstootlike en verfoeilike afgodsbeelde het hulle daarmee gemaak. Daarom gee Ek dít aan hulle as •onrein afval.

21Ek gee dit in die hand van vreemdes as buit, aan die goddeloses van die aarde as oorlogsbuit, en hulle sal dit ontheilig.

22Ek sal my gesig van hulle wegdraai, en hulle sal my kleinood ontheilig. Geweldenaars sal daar ingaan, dit ontheilig.

23Maak 'n ketting! Want die land is vol vonnisse oor moord, die stad is vol geweld.

24Ek sal die slegste nasies bring, en hulle sal die inwoners se huise in besit neem. Ek sal 'n einde maak aan die trots van sterkes, en hulle heiligdomme sal ontheilig word.

25“ ‘Angs is op pad; hulle sal vrede soek, maar daar sal nie wees nie.

26Ramp op ramp is op pad; daar is gerug ná gerug. Hulle soek 'n openbaring by die profeet; onderrig deur die priester ontbreek, ook raad deur die oudstes.

27Die koning sal rou, die leier sal verslae wees; die volk van die land se hande is deur angs verlam. Volgens hulle optrede sal Ek met hulle handel. Volgens hulle regspraak sal Ek oor hulle regspreek. Hulle sal besef dat Ek die Here is.’ ”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Ezekiel 7.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.