Ezekiel 32
1 In die twaalfde jaar, in die twaalfde maand, op die eerste dag van die maand, het die woord van die Here tot my gekom:
2 “Mensekind, hef 'n treurlied aan oor die farao, die koning van Egipte, en sê vir hom, ‘Jy was soos 'n jong leeu onder die nasies; jy was soos 'n krokodil in die waters. Jy het in jou riviere ingestorm, jy het die water troebel gemaak met jou pote, jy het hulle strome modderig gemaak.
3 “ ‘So sê my Heer, die Here: “Ek sal my vangnet oor jou gooi in die byeenkoms van baie volke, en hulle sal jou optrek in my sleepnet.
4 Ek sal jou op die grond laat lê, jou in die oop veld weggooi. Ek sal sorg dat al die voëls van die hemel hulle op jou tuismaak; Ek sal die diere van die hele aarde versadig maak van jou.
5 Ek sal jou vleis op die berge neersit. Ek sal die valleie vul met jou oorskiet.
6 Ek sal die aarde tot by die berge deurdrenk met jou bloed wat vloei. Die stroombeddings sal vol wees van jou.
7 Wanneer Ek jou uitdoof, sal Ek die hemelruim oordek; Ek sal sy sterre laat verdonker; die son sal Ek met wolke bedek en die maan sal nie sy lig laat skyn nie.
8 Al die ligbronne aan die hemelruim sal Ek bo jou laat verdonker. Ek sal duisternis oor jou land bring.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’
9 “ ‘ “Ek sal die harte van baie volke ontstel wanneer Ek jou krygsgevangenes by die nasies uitbring, na lande wat jy nie geken het nie.
10 Ek sal baie volke oor jou verbyster laat; hulle konings sal onbedaarlik sidder oor jou wanneer Ek my swaard voor hulle swaai. Hulle sal die hele tyd bewe, elkeen uit vrees vir sy lewe op die dag van jou val.
11 Ja,” so sê my Heer, die Here, “die swaard van die koning van Babilonië gaan jou bereik.
12 Deur die swaarde van krygsmanne laat Ek jou hordes val; hulle is die gewelddadigstes van nasies, hulle almal. Hulle sal die trots van Egipte geweld aandoen; al sy hordes sal uitgedelg word.
13 Ek sal al sy vee laat verdwyn langs baie water. Die voet van 'n mens sal dit nie weer troebel maak nie; die hoewe van vee sal dit nie troebel maak nie.
14 Dan sal Ek hulle waters helder maak, hulle riviere soos olie laat vloei.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’
15 “ ‘ “Wanneer Ek die land Egipte 'n woesteny maak, en die land verlate lê van alles wat daarin was, wanneer Ek al die inwoners daarin neervel, sal hulle besef dat Ek die Here is.
16 Dit is 'n treurlied, en hulle sal dit sing, die dogters van die nasies sal dit sing, oor Egipte en al sy hordes sal hulle dit sing.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ”
17 In die twaalfde jaar, op die vyftiende van die maand, het die woord van die Here tot my gekom:
18 “ Mensekind, weeklaag oor die hordes van Egipte en laat hulle afdaal – ook Egipte en die dogters van magtige nasies – af na die aarde se diepste dele, saam met dié wat in die put afdaal. Sê vir hulle,
19 ‘Wie oortref jy in skoonheid? Gaan af, word neergelê by onbesnedenes!’
20 “Tussen dié wat deur die swaard gesneuwel het, sal hulle val. 'n Swaard is gegee – sleep Egipte en al sy hordes weg!
21 Die magtigste krygshelde sal midde-in die •doderyk oor hom sê, oor hom saam met sy helpers, ‘Hulle het afgedaal; die onbesnedenes lê daar, deurboor met die swaard.’
22 “Daar is Assirië en sy hele strydmag – rondom hom is hulle grafte, almal gesneuweldes wat geval het deur die swaard –
23 Assirië, wie se grafte geplaas is op die uithoeke van die put. Sy strydmag is rondom sy graf – almal gesneuweldes, geval deur die swaard, hulle wat 'n skrikbewind gevoer het in die land van die lewendes.
24 “Daar is Elam, met al sy hordes rondom sy graf – almal gesneuweldes wat geval het deur die swaard, wat as onbesnedenes afgegaan het na die aarde se diepste dele, wat 'n skrikbewind gevoer het in die land van die lewendes. Hulle dra hulle vernedering saam met dié wat in die put afdaal.
25 Tussen gesneuweldes het hulle 'n lêplek vir Elam ingerig by al sy hordes. Hulle is rondom sy graf, almal onbesnedenes, deurboor met die swaard; want hulle het hulle skrikbewind gevoer in die land van die lewendes. Hulle dra hulle vernedering saam met dié wat in die put afdaal; tussen gesneuweldes is hulle neergelê.
26 “Daar is Meseg-Tubal en al sy hordes rondom sy graf – almal onbesnedenes, is hulle deurboor met die swaard; want hulle het 'n skrikbewind gevoer in die land van die lewendes.
27 Hulle lê nie by die krygshelde, die gevallenes uit die onbesnedenes nie, hulle wat afgedaal het in die doderyk met hulle oorlogswapens, hulle wie se swaarde onder hulle koppe geplaas is. Hulle sondeskuld sit aan hulle gebeente, want hulle was die verskrikking van krygshelde in die land van die lewendes.
28 “En jy, farao, tussen onbesnedenes sal jy gebreek word, en lê by dié wat gesneuwel het deur die swaard.
29 Daar is Edom, sy konings en al sy leiers hulle wat ondanks hulle magtige dade neergelê is by dié wat gesneuwel het deur die swaard. Ook hulle lê by die onbesnedenes, saam met dié wat in die put afdaal.
30 Daar is die stamhoofde uit die noorde, hulle almal, en al die Sidoniërs, wat afgedaal het saam met die gesneuweldes; ondanks hulle skrikbewind van kragtige dade, staan hulle beskaamd. As onbesnedenes lê hulle by dié wat gesneuwel het deur die swaard. Hulle dra hulle vernedering saam met dié wat in die put afdaal.
31 “Die farao sal hulle sien en dan berusting vind oor al sy hordes wat gesneuwel het deur die swaard – die farao en sy hele leër.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
32 “Ja, Ek het sy verskrikking toegelaat in die land van die lewendes, maar hy word neergelê tussen onbesnedenes, by dié wat gesneuwel het deur die swaard – die farao en al sy hordes.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.