Ezekiel 19
1 “ Jy dan, hef 'n treurlied aan oor die leiers van Israel.
2 Jy moet sê, ‘Wat 'n leeuwyfie was jou moeder nie! Tussen die leeus het sy gelê; tussen jong leeus het sy haar welpies grootgemaak.
3 Sy het een van haar welpies opgelei; hy het 'n jong leeu geword, en geleer om sy prooi te verskeur; hy het mense verslind.
4 Nasies het van hom gehoor; in hulle vangkuil is hy gevang; met hake het hulle hom na Egipteland geneem.
5 “ ‘Toe sy sien haar hoop is verydel, haar verwagting verlore, het sy een van haar welpies geneem, 'n jong leeu van hom gemaak.
6 Hy het tussen leeus rondgestap, 'n jong leeu geword, geleer om sy prooi te verskeur; hy het mense verslind.
7 Hy het hulle vestings verwoes, hulle dorpe in puin gelê. Die land en alles daarop het gebeef vir die geluid van sy gebrul.
8 Nasies het hulle teen hom opgestel uit die omliggende gebiede; hulle vangnet is oor hom gegooi; in hulle vangkuil is hy gevang.
9 Hulle het hom in 'n halsband met hake gesit, hom na die koning van Babilonië geneem. Hulle het hom in die gevangenis ingeneem, sodat sy stem nie meer gehoor sou word op die berge van Israel nie.
10 “ ‘Met jou moeder was dit soos met 'n wingerdstok in jou wingerd, by water geplant. Dit was vol vrugte en lote van die oorvloed water.
11 Dit het sterk stamme gehad, geskik vir die septers van heersers. Die top daarvan was hoog, bo tussen digte ranke – uitkenbaar aan sy hoogte, aan sy baie blare.
12 “ ‘ Maar dit is in woede uitgeruk, op die grond neergegooi. Die oostewind het sy vrugte laat verdor; sy sterk stamme is afgeskeur en het verdroog, vuur het dit verteer.
13 Nou is dit in die woestyn geplant, in 'n dor en dorstige land.
14 Vuur het uit die stam met sy ranke versprei; dit het sy vrugte verteer. Aan die wingerdstok is nie meer 'n sterk stam, 'n septer om te heers nie.’ “Dit is 'n treurlied; dit moet dien as 'n treurlied.”