Bible

Designed

For Churches, Made for Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Exodus 36

:
Afrikaans - AFR20
1 “Besaleël, Oholiab en elke vaardige persoon vir wie die Here wysheid gegee het, en ook die insig om te verstaan hoe om al die werk aan die oprigting van die heiligdom te verrig, moet dit doen in ooreenstemming met alles wat die Here beveel het.”
2 Moses het Besaleël en Oholiab toe ontbied, en ook elke vaardige persoon in wie se hart die Here wysheid gegee het, elkeen wie se hart hom daartoe gebring het om aan te meld vir die uitvoering van die taak.
3 Om dit te kon doen, het hulle elke •wydingsgeskenk wat die Israeliete gebring het vir die werk aan die oprigting van die heiligdom, van Moses ontvang. Die Israeliete het steeds elke oggend vrywillige offers vir hom gebring.
4 Al dié wat vaardig is en wat besig was met die werk aan die heiligdom, elkeen wat met 'n eie taak belas was, het gekom
5 en vir Moses kom sê: “Die volk bring nou meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk wat die Here hulle beveel het om te doen.”
6 Moses het toe opdrag gegee en hulle het 'n boodskap deur die hele kamp gestuur: “Geen man of vrou moet verder werk aan wydingsgeskenke vir die heiligdom nie.” Die volk het toe opgehou om te bring,
7 en die bydrae wat hulle gemaak het, was genoeg om al die werk te doen daar het selfs oorgebly.
8 Al die vaardiges onder dié wat die werk gedoen het, het die •tabernakel met tien tentdoeke van fyn dubbeldraadlinne en pers, purperrooi en karmosynrooi wol gemaak, met gerubs daarop met die kundigheid van 'n vakman.
9 Die lengte van elke tentdoek was agt-en-twintig el en die breedte van elke tentdoek vier el. Al die tentdoeke het dieselfde afmetings gehad.
10 Hy het vyf van die tentdoeke aan mekaar vasgewerk, en so ook die ander vyf tentdoeke.
11 Hy het op die een stel, op die soom van die een tentdoek, al langs die kant, lussies van pers wol aangebring. Op dieselfde manier het hy ook op die tweede stel, op die soom van die buitenste tentdoek, lussies aangebring.
12 Hy het vyftig lussies op die een tentdoek aangebring, en vyftig lussies op die kant van die tentdoek van die tweede stel. Die lussies was regoor mekaar.
13 Hy het vyftig goue hakies gemaak, en die tentdoeke met die hakies aan mekaar vasgemaak, sodat die tabernakel een geheel gevorm het.
14 Hy het ook tentdoeke van bokhaar gemaak om te dien as 'n tent oor die tabernakel. Elf van hierdie tentdoeke het hy daarvoor gemaak.
15 Elke tentdoek was dertig el lank en vier el breed. Die elf tentdoeke het dieselfde afmetings gehad.
16 Hy het vyf tentdoeke aan mekaar vasgewerk om 'n eenheid te vorm, en so ook die ander ses tentdoeke.
17 Hy het vyftig lussies op die soom van die buitenste tentdoek in die een stel aangebring, en vyftig lussies op die soom van die tweede stel tentdoeke.
18 Hy het vyftig bronshakies gemaak om die dele van die tent saam te heg, sodat dit een geheel vorm.
19 Hy het vir die tent 'n bedekking van rooi gekleurde ramsvelle gemaak, en nog 'n bedekking van sagte leer bo-oor.
20 Hy het vir die tabernakel planke van doringhout gemaak wat regop staan.
21 Elke plank was tien el lank, en een en 'n half el breed.
22 Daar was twee tappe in elke plank waarmee hulle teen mekaar geplaas is. So het hy met al die planke van die tabernakel gemaak.
23 Hy het vir die suidekant van die tabernakel twintig planke gemaak,
24 en hy het veertig silwervoetstukke onder die twintig planke aangebring twee voetstukke onder een plank vir sy twee tappe, en twee voetstukke onder die ander plank vir sy twee tappe.
25 Vir die ander sykant, aan die noordekant van die tabernakel, het hy twintig planke gemaak
26 met hulle veertig silwervoetstukke twee voetstukke onder elk van die planke.
27 Vir die agterkant van die tabernakel, aan die westekant, het hy ses planke gemaak.
28 Hy het twee planke vir elk van die twee agterste hoeke van die tabernakel gemaak.
29 Hulle het van onder af teen mekaar gepas, en 'n hegte eenheid gevorm tot bo by die een ring. So het hy met al twee planke by die twee agterste hoeke gemaak.
30 Daar was agt sulke hoekplanke met hulle silwervoetstukke, dit is sestien voetstukke twee voetstukke onder elk van die hoekplanke.
31 Hy het ook dwarshoute van doringhout gemaak, vyf rye vir die planke aan die een sykant van die tabernakel,
32 en vyf rye dwarshoute vir die planke aan die ander sykant van die tabernakel, asook vyf rye dwarshoute vir die planke aan die agterkant van die tabernakel, aan die westekant.
33 Hy het die middelste ry dwarshoute gemaak om in die middel van die planke deur te loop van die een kant na die ander kant.
34 Die planke het hy met goud oorgetrek, en die ringe van die planke, wat die dwarshoute dra, het hy van goud gemaak. Hy het die dwarshoute ook met goud oorgetrek.
35 Hy het die voorhangsel met pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne gemaak, met gerubs daarop met die kundigheid van 'n vakman.
36 Hy het vier staanders van doringhout daarvoor gemaak en dit met goud oorgetrek; hulle hakies was van goud en hy het vir hulle vier silwervoetstukke gegiet.
37 Hy het ook vir die ingang van die tent 'n gordyn, met pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne gemaak met die kundigheid van 'n borduurder
38 asook die bypassende vyf staanders met hulle hakies. Hy het die bopunte van die staanders met goud oorgetrek. Hulle hegplekke was van goud en hulle vyf voetstukke was van brons.