Exodus 21
1 “Dit is die bepalings wat jy aan hulle moet voorhou:
2 “ Wanneer jy 'n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank werk, maar in die sewende jaar moet hy as 'n vry man weggaan, sonder om iets te betaal.
3 As hy alleen was toe hy in diens getree het, moet hy alleen weggaan; as hy getroud was, moet sy vrou saam met hom weggaan.
4 As sy eienaar vir hom 'n vrou gegee en sy vir hom seuns of dogters in die wêreld gebring het, behoort die vrou en haar kinders aan die eienaar, en moet hy alleen weggaan.
5 As die slaaf egter uitdruklik sê, ‘Ek het my eienaar, my vrou en my kinders lief, ek wil nie as 'n vry man weggaan nie,’
6 moet sy eienaar hom na God bring. Hy moet hom na die deur of die deurkosyn bring, en daar moet sy eienaar sy oor met 'n els deursteek. Hy moet dan vir altyd vir hom werk.
7 Wanneer 'n man sy dogter as 'n slavin verkoop, mag sy nie op dieselfde manier as die manlike slawe vrygelaat word nie.
8 As haar eienaar, wat haar vir homself wou hê, haar onaanvaarbaar vind, moet hy haar laat vrykoop. Hy het nie die reg om haar aan enige vreemde volk te verkoop nie, omdat hy bedrieglik teenoor haar opgetree het.
9 As hy haar vir sy seun wou hê, moet hy ooreenkomstig die reg van dogters teenoor haar optree.
10 As hy vir hom 'n ander vrou neem, mag hy haar kos, haar klere en omgang met haar nie verminder nie.
11 As hy hierdie drie dinge nie aan haar bied nie, mag sy weggaan sonder om enige geld te betaal.
12 “Wie iemand só slaan dat hy sterf, moet beslis doodgemaak word.
13 Maar as hy dit nie beplan het nie, en God dit beskik het dat hy 'n hand daarin het, dan sal Ek vir julle 'n plek aanwys waarheen hy kan vlug.
14 Wanneer iemand egter met voorbedagte rade optree deur sy medemens met slinksheid om die lewe te bring, moet jy hom selfs van my altaar af wegneem om te sterf.
15 Wie sy vader of moeder slaan, moet beslis sterf.
16 Wie iemand ontvoer, en hom verkoop of nog in sy besit het, moet beslis sterf.
17 Wie sy vader of moeder vervloek, moet beslis sterf.
18 Wanneer mans rusie maak, en een slaan 'n ander met 'n klip of met die vuis, en hy nie sterf nie, maar bedlêend raak,
19 sal die een wat geslaan het, vry wees as die man opstaan en met sy kierie buite rondloop. Hy moet hom net vergoed vir die tyd wat hy sonder verdienste was. Hy moet toesien dat hy ten volle herstel.
20 Wanneer iemand sy slaaf of slavin met 'n stok só slaan dat hy onder sy hand sterf, moet dit beslis gewreek word.
21 Maar as hy 'n dag of twee oorleef, moet dit nie gewreek word nie, want die slaaf is met sy geld gekoop.
22 Wanneer mans baklei en hulle beseer 'n swanger vrou, sodat haar kind te vroeg gebore word, maar daar nie 'n ernstige besering is nie, moet die een wat haar beseer het, beslis die boete betaal wat die vrou se eggenoot hom oplê. Hy moet dit vasstel met die hulp van beregters.
23 Maar as daar 'n ernstige besering is, moet jy bepaal: 'n lewe vir 'n lewe,
24 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand, 'n voet vir 'n voet,
25 'n brandwond vir 'n brandwond, 'n wond vir 'n wond, 'n kneusplek vir 'n kneusplek.
26 Wanneer iemand die oog van sy slaaf of slavin raakslaan en hy sy oog verloor, moet hy die persoon as 'n vrygelate wegstuur as vergoeding vir die oog.
27 As iemand die tand van sy slaaf of slavin uitslaan, moet hy die persoon as 'n vrygelate wegstuur as vergoeding vir die tand.
28 “Wanneer 'n bees 'n man of 'n vrou stoot, sodat die persoon sterf, moet die bees beslis gestenig word. Sy vleis mag nie geëet word nie, maar die eienaar van die bees is onskuldig.
29 As die bees egter voorheen al stoterig was, en sy eienaar gewaarsku is, maar hy dit nie opgepas het nie, en die bees maak dan 'n man of vrou dood, moet die bees gestenig word, en ook sy eienaar moet sterf.
30 As hy 'n losprys opgelê word, moet hy die afkoopprys vir sy lewe gee, soveel as wat hom opgelê word.
31 Ook wanneer die bees 'n seun of 'n dogter stoot, moet daar ooreenkomstig hierdie bepaling teenoor die eienaar opgetree word.
32 As dit 'n slaaf of slavin is wat deur die bees gedood is, moet daar dertig sikkel silwer vir hulle eienaar gegee word, en die bees moet gestenig word.
33 Wanneer iemand 'n opgaarput oop laat, of iemand 'n opgaarput uitkap en dit nie bedek nie, en 'n bees of 'n donkie val daarin,
34 moet die eienaar van die opgaarput vergoeding betaal. Hy moet vir die eienaar geld gee, en die dooie dier sal dan aan hom behoort.
35 Wanneer iemand se bees sy medemens se bees stoot, en hy vrek, moet hulle die bees wat nog leef, verkoop en die geld deel. Ook die dooie bees moet hulle deel.
36 Maar as dit bekend is dat die bees voorheen al bakleierig was, en sy eienaar hom nie opgepas het nie, moet hy beslis 'n bees gee as vergoeding vir die bees. Die dooie dier sal dan aan hom behoort.