Exodus 15
1 Toe het Moses en die Israeliete hierdie lied vir die Here gesing. Hulle het gesê: “Ek wil sing vir die Here, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see geslinger.
2 My krag en sterkte is die Here, en Hy was my redding. Hy is my God, en Hom sal ek vereer, die God van my vader, en Hom sal ek verheerlik.
3 “Die Here is 'n krygsman, Here is sy Naam.
4 Die farao se strydwaens en sy leër het Hy in die see geslinger; die keur van sy offisiere het weggesink in die Rietsee.
5 Die watermassa het hulle verswelg; in die dieptes het hulle afgesak soos 'n klip.
6 “ U regterhand, Here – majestueus in krag; U regterhand, Here, vernietig die vyand.
7 In u hoë verhewenheid breek U hulle af wat teen U opstaan. U gee u toorngloed vrye teuels, dit verteer hulle soos strooi.
8 Deur die asem uit u neus het die water opgedam, het die seestrome gaan staan soos in 'n dam, het die watermassa in die hart van die see gestol.
9 “Die vyand het gesê, ‘Ek sal agtervolg, inhaal, buit verdeel; my begeerte sal vervul word. Ek sal my swaard trek, my hand sal hulle onderwerp.’
10 U het met u asem geblaas, die see het hulle verswelg; soos lood het hulle gesink in die magtige waters.
11 “ Wie is soos U onder die gode, Here? Wie is soos U, majestueus in heiligheid, ontsagwekkend in lofwaardige dade? U wat wonders doen,
12 U het u regterhand uitgestrek; die aarde het hulle ingesluk.
13 “Deur u troue liefde sal U die volk lei wat U gered het. Deur u krag sal U hulle begelei na u heilige woonplek.
14 Volke sal dit hoor, hulle sal sidder; benoudheid pak die inwoners van Filistea beet.
15 Dan raak die stamhoofde van Edom beangs, bewing pak die leiers van Moab beet; al die inwoners van Kanaän sidder.
16 Verskrikking en vrees sal hulle oorval; vanweë u magtige arm raak hulle stil soos 'n klip, totdat u volk, Here, verbytrek, totdat die volk wat U gekoop het, verbytrek.
17 U sal hulle inbring en plant op die berg van u erfgrond, die plek wat U voorberei het vir u verblyf, Here, die heiligdom, my Heer, wat u hande gevestig het.
18 “ Die Here sal regeer vir altyd en ewig.
19 Want die perde van die farao, met sy strydwaens en bemanning, het in die see ingegaan, en die Here het die water van die see oor hulle laat terugvloei. Maar die Israeliete het op droë grond in die middel van die see deurgetrek.”
20 Toe het Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, 'n tamboeryn in haar hand geneem, en al die vroue het agter haar aan uitgegaan met tamboeryne en in 'n kring gedans.
21 Mirjam het vir hulle die refrein gesing: “Sing vir die Here, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see geslinger.”
22 Moses het die Israeliete laat wegtrek van die Rietsee, en hulle het uitgegaan na die Surwoestyn. Hulle het drie dae lank in die woestyn getrek en nie water gekry nie.
23 Toe hulle by Mara aankom, kon hulle die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. Daarom word die plek Mara genoem.
24 Die volk het teenoor Moses gemor en gesê: “Wat moet ons drink?”
25 Hy het na die Here om hulp geroep; en die Here het hom 'n stuk hout gewys. Moses het dit in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het die Here vir hulle 'n vaste voorskrif en 'n bepaling neergelê; daar het Hy hulle getoets.
26 Hy het gesê: “As jy noukeurig luister na die stem van die Here jou God, doen wat reg is in sy oë, aandag gee aan sy gebooie en al sy vaste voorskrifte nakom, dan sal Ek nie een van die siektes wat Ek op die Egiptenare gelaai het, oor jou bring nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak. ”
27 Hierna het hulle by Elim aangekom, waar daar twaalf fonteine en sewentig dadelpalms was. Hulle het daar langs die water kamp opgeslaan.