Ephesians 3
1 Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van •Christus Jesus, ter wille van julle, die heidene.
2 Julle het tog gehoor dat die taak van die bediening van God se genade teenoor julle aan my toevertrou is.
3 Deur openbaring is die geheimenis aan my bekend gemaak, soos ek reeds kortliks geskryf het.
4 Wanneer julle dit lees, sal julle daardeur my insig in die geheimenis van Christus kan begryp.
5 Die geheimenis is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy heilige •apostels en profete geopenbaar is nie,
6 naamlik dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is.
7 Van dié evangelie het ek 'n dienaar geword, ooreenkomstig die gawe van God se genade wat aan my betoon is volgens die werking van sy krag.
8 Aan my, minder as die geringste van al die •heiliges, is hierdie genade geskenk, om aan die heidene die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig,
9 en om almal in te lig wat die uitvoering van die geheimenis is wat vir eeue lank verborge was in God, wat alle dinge geskep het.
10 Gevolglik kan die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die •kerk aan die owerhede en die magte in die hemel bekend gemaak word,
11 ooreenkomstig sy ewige voorneme, wat Hy gemaak het in Christus Jesus, ons Here.
12 In Hom het ons, deur ons geloof in Hom, 'n seker en vrymoedige toegang tot God.
13 Daarom versoek ek julle om nie moedeloos te word as gevolg van my verdrukking ter wille van julle nie. Dit sal julle tot eer strek.
14 Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader,
15 van wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang.
16 Ek bid dat Hy vir julle na die rykdom van sy heerlikheid dít sal skenk: om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word,
17 sodat •Christus deur die geloof in julle harte mag woon, terwyl julle in die liefde gewortel en gegrond is,
18 sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die •heiliges tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte,
19 ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan, sodat julle gevul mag word met al die volheid van God.
20 Aan Hom, wat deur sy krag wat in ons werk, die mag het om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink,
21 aan Hom kom toe die heerlikheid in die •kerk en in •Christus Jesus, deur alle geslagte heen, vir ewig en ewig. •Amen.