Ecclesiastes 12
1 Dink aan jou Skepper in jou jong dae, voordat die dae van teenspoed kom, en jare aanbreek waarvan jy sal sê, “Vir my is daar geen vreugde in nie”;
2 voordat die son en die lig donker word, die maan en die sterre; en die wolke terugkeer ná die reën;
3 die dag wanneer die wagte van die huis bewe, die sterk manne krom word, die vroue wat maal, ophou werk omdat hulle te min geword het, dié wat deur die vensters kyk, donker word,
4 en die deure na die straat gesluit word; wanneer die geluid van die meul sag word; wanneer sy stem klink soos die klank van 'n voël, maar al die tone van die lied dof is;
5 wanneer daar selfs vir 'n hoogte gevrees word en daar verskrikking op die pad is; terwyl amandelbome bloei, koringkrieke hulleself voortsleep en kappertjies oopbreek, wanneer die mens op pad is na sy ewige huis, en die rouklaers in die straat rondgaan;
6 voordat die silwerkoord verwyder word, die goue bak stukkend val, die kruik langs die waterbron gebreek word, die skepwiel stukkend val in die put,
7 die stof na die aarde terugkeer soos dit was, en die lewensasem na God terugkeer wat dit gegee het.
8 Sinloos, volslae sinloos, sê die prediker, alles is sinloos!
9 Nie net was Prediker wys nie, hy het ook nog kennis aan die volk oorgedra. Hy het oorweeg en nagevors; hy het baie wysheidspreuke georden.
10 Prediker het daarna gestreef om gepaste woorde te vind, wat eerlik neergeskryf is – waar woorde.
11 Die woorde van wyses is soos skerp stokke; soos spykers wat ingeslaan is, is die hoofgedagtes van 'n versameling. Hulle is deur een Herder gegee.
12 Bo en behalwe alles, nog dit: My seun, wees gewaarsku: Aan die skryf van baie •boekrolle kom daar geen einde nie, en baie studie is uitputtend vir die liggaam.
13 Die slotsom is, nadat alles gehoor is: Betoon ontsag vir God en kom sy gebooie na; dit geld immers die hele mensdom.
14 Want oor elke daad sal God self oordeel, oor alles wat verborge is, of dit goed is of kwaad.