Bible

Create

Inspiring Presentations Without Hassle

Try Risen Media.io Today!

Click Here

Deuteronomy 26

:
Afrikaans - AFR20
1 Wanneer jy in die land aangekom het wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee om in besit te neem, en jy daar gevestig is,
2 moet jy van die eerste opbrengs van al die vrugte wat jy oes op die grond van die land wat die Here jou God aan jou gee, neem en in 'n mandjie sit. Gaan dan na die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te vestig.
3 Wanneer jy by die priester aankom wat in dié dae daar sal wees, moet jy vir hom sê, ‘Ek maak vandag aan die Here u God bekend dat ek aangekom het in die land wat die Here met 'n eed aan ons voorvaders beloof het om aan ons te gee.’
4 Die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die Here jou God neersit.
5 Dan moet jy voor die Here jou God bely en sê, ‘My vader was 'n rondswerwende Arameër. Hy het na Egipte afgegaan en met min mense as 'n •vreemdeling tydelik daar gaan woon. Daar het hy 'n groot nasie geword, magtig en talryk.
6 Maar die Egiptenare het ons sleg behandel, ons onderdruk en ons aan harde slawewerk onderwerp.
7 Toe het ons na die Here, die God van ons voorouers, om hulp geroep. Die Here het ons gehoor en ons ellende, ons swaarkry en ons verdrukking raakgesien;
8 en die Here het ons met 'n sterk hand en uitgestrekte arm uit Egipte uitgelei, ja, met 'n vreesaanjaende magsvertoon, met tekens van mag en wondertekens.
9 Hy het ons na hierdie plek gebring en aan ons hierdie land gegee, 'n land wat oorloop van melk en heuning.
10 Hier het ek nou die eerste vrugte gebring van die grond wat U, Here, vir my gegee het.’ Sit dit dan voor die Here jou God neer en buig in aanbidding voor die Here jou God.
11 Jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God aan jou en jou huis gegee het jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou is.
12 “Wanneer jy in die derde jaar, die jaar van die tiendes, die volle tiende van jou opbrengs klaar eenkant gesit en dit ook vir die Leviete, die vreemdelinge, die vaderloses en weduwees gegee het, en hulle eet en versadig raak in julle dorpe,
13 moet jy voor die Here jou God verklaar, ‘Ek het die •heilige gawes uit my huis verwyder en vir die Leviete, die vreemdelinge, die vaderloses en weduwees gegee in ooreenstemming met die volle opdrag wat U my gegee het. Ek het nie enige van u gebooie oortree nie, en ek het dit nie vergeet nie.
14 Ek het nie daarvan geëet terwyl ek rou nie, en niks daarvan verwyder terwyl ek •onrein is nie. Ek het ook niks daarvan aan dooies gegee nie. Ek het na die stem van die Here my God geluister. Ek het opgetree net soos U my beveel het.
15 Kyk tog af uit u heilige woning, uit die hemel, en seën u volk Israel en die grond wat U vir ons gegee het, net soos U dit met 'n eed beloof het aan ons voorvaders 'n land wat oorloop van melk en heuning.’
16 “Vandag beveel die Here jou God jou om hierdie vaste voorskrifte en wette uit te voer. Jy moet dit met hart en siel nakom.
17 Vir die Here het jy vandag jou woord gegee dat Hy jou God sal wees, dat jy sy paaie sal volg, sy vaste voorskrifte, sy gebooie en beslissings sal nakom en na sy stem sal luister.
18 Die Here gee jou vandag sy woord dat jy as volk sy persoonlike eiendom sal wees, soos Hy jou beloof het, sodat jy al sy gebooie kan nakom.
19 Hy sal jou bo al die nasies wat Hy gemaak het, verhoog, tot jou lof en roem en eer, en sodat jy 'n heilige volk vir die Here jou God kan wees, soos Hy beloof het.”