Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Amos 3

:
Afrikaans - AFR20
1 “Luister na hierdie woord wat Ek, die Here, teen julle uitgespreek het, Israeliete, teen die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het,
2 ‘Net julle, uit al die geslagte van die aarde, het Ek geken; daarom gaan Ek van julle rekenskap eis oor al julle sondeskuld.’
3 Loop twee saam sonder dat hulle afgespreek het?
4 Brul 'n leeu in die bos as daar vir hom geen prooi is nie? Laat 'n jong leeu sy stem hoor uit sy lêplek sonder dat hy iets gevang het?
5 Duik 'n voël af op 'n wip op die grond as daar vir hom geen lokaas is nie? Klap 'n wip toe op die grond as dit glad nie iets vang nie?
6 As 'n •ramshoring in 'n stad geblaas word, bewe mense nie? As daar teenspoed in 'n stad is, het die Here dit nie gedoen nie?
7 Ja, my Heer, die Here, doen niks nie, tensy Hy sy vertroulike besluit openbaar aan sy diensknegte, die profete.
8 'n Leeu het gebrul wie sal nie bang wees nie? My Heer, die Here, het gepraat wie sal nie profeteer nie?
9 Basuin dit uit oor die vestings in Asdod, oor die vestings in Egipteland. Sê: “Kom bymekaar op die heuwels by Samaria, en aanskou die groot paniek in haar, die verdrukking in haar midde.”
10 “Hulle weet nie hoe om reg op te tree nie,” is die uitspraak van die Here, “hulle wat die buit van geweld en misdaad opstapel in hulle vestings.”
11 Daarom, so my Heer, die Here: “Daar is 'n vyand, en hy is reg rondom die land! Hy gaan jou versterkings laat intuimel, jou vestings word geplunder.”
12 So die Here: “Soos 'n skaapwagter twee stukkies agterbeen en die kraakbeen van 'n oor red uit die bek van 'n leeu, so sal die Israeliete gered word wat in Samaria sit met net die hoek van 'n bed en die sykant van 'n slaapbank.
13 Luister en getuig teen die huis van Jakob.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here, die God wat Heerser is oor alle magte.
14 Ja, die dag wanneer Ek van Israel rekenskap eis oor sy oortredings, gaan Ek ook rekenskap eis van die altare van Bet-El: Die horings van die altaar sal afgekap word; dit sal op die grond val.
15 Ek gaan die winterhuis verwoes saam met die somerhuis. Die huise met ivoorinleg sal tot niet gaan en groot huise sal verval,” is die uitspraak van die Here.